Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Lydenburg leerders sing hulle harte uit tydens die Koorfees

Rillings en hoendervleis tot in jou toonnaels - dit was die beloning vir die sowat 900 Lydenburgers wat die 2018 Koorfees-uitvoerings die afgelope week bygewoon het

Voor volgepakte sale by Hoër- en Laerskool Lydenburg, het die sestal kore Dinsdag- en Donderdagaand opgetree en die staande ovasies aan die einde het vanself gebeur. Om sowat 350 tot 400 kinders met soveel dissipline en passie te sien optree, wil gedoen word.

Om die kleintjies van die laerskool se junior koor en River View Primary se mondjies te sien tuit en rek, oë stip op die koorleiers, Suzaan Bronkhorst en Janine Nienaber, is ‘n belewenis in eie reg. Estralita se Zodwa Magagula en Thabita Nyalangu het hulle passie vir musiek duidelik laat lyf kry in hulle pragtige sang en beweging.

Met passie… Suzaan Bronkhorst, dirigent van die kore.

En dan was daar natuurlik die 90 ryk stemme van die hoërskoolkoor wat almal onkant gevang het met hulle dreunende inkom in die saal en meevoerende verwerkings van Suzaan Bronkhorst. Die soliste was uit ‘n ander wêreld. Dimpho Thobejane se “Symphony” en Emma Neethling met Puccini se “O mio babbino caro” het gaste in verwondering gelaat.

Die groot bederf was tenoor Etienne van der Nest as solis en in duet met Suzaan en met professionele sopraan, Riana Eloff. Met “Memories” het dié twee gesoute sangers opgewarm en toe die krane heel akrobaties oopgedraai met Freddie Mercury se “Barcelona”.

Hoërskool Lydenburg se koor.

Die afsluiting met ‘n massakoor en roerende saamsing deur die gehoor, het van die aand sielskos gemaak.

Die geleentheid is afgesluit met “Highland Cathedral” en Suzaan se pragtige eie skepping wat die eer gegee het waar dit hoort – op so ‘n hoë noot dat dit die trane van afskeid van Suzaan goed genoeg kon wegsteek. Sy gaan (tydelik, glo almal) nie meer kore afrig nie.

Solis, Dimpho Thobejane.

Lydenburg sal nooit genoeg kan dankie sê vir nege jaar se passie, harde werk en onbeskryflike inbou in die dorp se jongklomp nie.

• Laerskool Lydenburg se senior koor het met hulle eerste deelname aan die gewilde Sing in Harmonie-koorkompetisie na die eindronde deurgedring. Dié koor is tydens die agste episode van Sing in Harmonie as die wenners van die formele afdeling aangewys. Die eindronde van dié reeks, waarvan die eerste episode op 3 Junie op kykNET NOU (DStv-kanaal 146) te sien was, sal in September uitgesaai word. Televisiekykers kan die Augustusprogram dophou en uitkyk vir die nasionale finale uitsending. Nadat die koor tot die eindronde deurgedring het, het Suzaan gesê dié koor glo daarin om ‘n boodskap deur hulle sang oor te dra.

Laerskool Lydenburg se senior koor.

“Met ons deelname aan Sing in Harmonie glo ons dat dié boodskap vanjaar verder as die Laeveld sal trek. Ek glo musiek kom van die Here.

“As mense deur ons koorsang ‘n roering in hulle harte ervaar en sal wonder hoekom, sal ons weet hulle harte is aangeraak.”

Die koor tree ook op 26 Augustus in Mbombela in Richard Cock se Songs of Praise op – die enigste skoolkoor tussen volwasse kore.

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind. Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakette en aantal inskrywings.

Bougas is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van dié gesogte jaarlikse kompetisie, waar honderde kore van laerskole en hoërskole vanoor die hele land, teen mekaar meeding.

Riana Eloff en Etienne van der Nest.

Suid-Afrika het vir die eerste keer in 2007 met Bougas kennis gemaak toe hy aan Supersterre deelgeneem het. Deesdae sien ons hom as aanbieder van verskillende programme soos Sing in Harmonie, Kleuterzone en Solis vir Christus. Hy het al selfs ‘n draai in die sepie Villa Rosa gemaak.

Die akteur en sanger Izak Davel, Phillip Kotze, omroeper van Groot FM, Hannelie van Sittert met meer as 37 jaar se koorervaring en Lizl Gaffley, wie se eie koor van die Kenmere Primary School in Kensington, Kaapstad in 2015 Sing in Harmonie gewen het, beoordeel weekliks saam met Bougas deelnemende kore.

Die koor van River View Primary.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) ondersteun dié koorkompetisie vir ‘n tweede keer.

Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK, sê hulle tree vir die tweede jaar as kultuurvennoot van Sing in Harmonie op. “Die bevordering van koormusiek is vir die FAK baie belangrik.

“Deelnemers ontvang FAK-sertifikate, wenkore ontvang FAK-trofeë en FAK-Sangbundels word uitgedeel.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button