Tydens NG Burgersfort se jaarlike kerk basaar was daar weer baie om na uit te sien
‘n Basaar is iets wat mens net nie kan misloop nie. Net die blote gedagte van al die lekker eetgoed en aktiwiteite laat jou vinnig die gesin in die kar pak en ry

BURGERSFORT – Pannekoek, kolwyntjies, glybane en soveel meer om te eet en te doen – dit was alles deel van die pret met die Nederduitse Gereformeerde Kerk se jaarlikse basaar.

Op vanjaar se program is ‘n talent-kompetisie gevoeg waarin die publiek hulle talent ten toon kon stel. Daar was akrobate, dansers en selfs sangers. Elkeen het moed bymekaar geskraap, die gehoor in die oë gekyk en hulle items voorgedra.

Die wenners is na die tyd met pryse beloon. Die kleingoed kon hulself besig hou op springkastele, glybane en met ander speletjies terwyl ma en pa rustig die stalletjies besoek.

Alle diëte is by die huis gelos met die smaaklike koek- en terttafel. Die geur van tuisgebak het smaakkliere geprikkel en menige basaarganger kon nie verbyloop sonder om ‘n snytjie of twee van dié lekkernye te koop nie.
