Local newsNewsNews

Wildevy 4×4 gesinsdag sorg vir pret

Die 4x4 Wildevy gesinsdag het mense van heinde en verre gelok met n verskeidenheid van aktiwiteite vir ieder en elk.

 

wild24BURGERSFORT – Verlede Saterdag se gewilde 4×4 Wildevy-gesinsdag het vir baie pret gesorg. Terwyl die mans die uitdagende bane aandurf en die vroue die stalletjies geniet, het die kinders hulself in die speelpark vermaak. Die Wildevy-manne, wat die dag organiseer, is ‘n nie-winsgewende organisasie wat daargestel is om fondse vir minderbevoorregtes in die gemeenskap in te samel.
 
Die dag het altyd ‘n heerlike feestelike atmosfeer met verskeie stalletjies wat tuisgemaakte kos en verversings aanbied. Vir die mense wat nie aan die uitdagings deelneem nie, was daar ‘n trekker en sleepwa wat hulle tussen punte vervoer het sodat hulle niks van die aksie misloop nie. Hierdie was ‘n gratis diens aan die publiek. Vlieëniers het van sover as Nelspruit ingevlieg om die dag uit die lug te kom beskou en die Waterval Flyers Club het met hul modelvliegtuigies beïndruk.
 
Helikopterritte het aan besoekers ‘n geleentheid gegee om ook die natuurskoon van die vallei uit die lug te waardeer. Daar was vanjaar selfs een vrouespan genaamd Pink Power wat die baan aangedurf het. Ellie van der Linde was die bestuurder en die vroue het hulself baie geniet. Intussen het hul ook vir die mans gewys dat die skoner geslag self ook sulke bane kan aandurf en voltooi.
 
Susan Pretorius, een van die spanlede, vertel dat hul baie goed teen die mans gevaar het. “Dit het baie moed gekos. By die blinddoekpunt het ons 90 uit 100 punte gekry. Alhoewel ons ‘n wiel verloor het, het dit ons nie gestop nie,” vertel sy. Hulle het ook die man- en nie die muis-uitgang nie, aangedurf. So het die vroue gewys dat hulle gedugte mededingers is.
 
Vrydagaand is ‘n afskopkonsert by die Buffelsvlei-gasteplaas gehou waar Henri Alant en Handré Visagie gaste met rock, country, pop, Afrikaans en folk-musiek vermaak het. Dié fondse is ook aan die Wildevy-manne geskenk en beide die kunstenaars het vir liefdadigheid opgetree. Die jaarlikse potjiekoskompetisie het ook weer vir baie pret gesorg. In dié afdeling is Samancor ECM as die algehele wenner, beste potjie, beste spangees en beste tema aangekondig. Protea Coin Security het die lekkerste potjie gehad en die “Vatikaki-potjie”-titel is deur Johansons Crane Hire verower.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button