
NELSPRUIT – Inwoners sal nog ‘n rukkie langer moet wag vir klarigheid oor die dorp se naamsverandering. Die saak van die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) teen die minister van kuns en kultuur sou volgende week in die Pretoria Hooggeregshof begin het.
Dit is egter onvoorwaardelik uitgestel na daar besef is dat die regter klaar bespreek is vir dié datums. “Die saak sal nie die einde van Augustus voorkom nie, want twee sake is geplaas vir dieselfde tyd voor dieselfde regter,” het mnr. Johann du Preez, die sakekamer se prokureur, gesê. “Die eerste saak is ingestel voor ons s’n en derhalwe gaan dit voort terwyl ons saak gevolglik van die rol verwyder is.”
Volgens me. Linda Grimbeek van die sakekamer, probeer Du Preez om so spoedig moontlik ‘n nuwe verhoordatum te verkry. Die KLCBT het die afgelope maande fondse vir die saak ingesamel en einde Julie R20 000 tydens ‘n blikskud geïn. Hulle benodig nagenoeg R400 000 vir die regskostes verbonde aan ‘n saak in die hooggeregshof.
Om by te dra, kan kontant-of kredietkaart-deposito’s by die KLCBT se kantore by Crossing-winkelsentrum gemaak word. Geld kan ook in die volgende rekeninge gedeponeer word:
Standard Bank, Nelspruit-tak, LCBT, rekeningnommer 330 670 689; Eerste Nasionale Bank, takkode 270 352, Lowveld Info, rekeningnommer 531 300 392 25; of Absa Bank, Nelspruit-tak, Lowveld Business, rekeningnommer 405 473 5407.