Opskudding oor kwotas in rugby
Reeds in 2004 het die voorgestelde kwota-stelsel in rugby humeure laat opvlam. Nou, jare later bots grotes stééds oor dié kwelpunt.

Die jongste opskudding kom van 12 Augustus, ná die Suid-Afrikaanse Rugbyunie
(Saru) se uitvoerende raad en sy transformasiekomitee besluit het om kwotas
terug te bring. Volgens Saru het rugbyunies daarin misluk om genoeg spelers van
ander rasse in spanne in te sluit.
Die president van die Pumas, mnr. Hein Mentz sê dat hy transformasie in rugby ten volle ondersteun, maar die Pumas het eenvoudig nie genoeg swart spelers om aan die versteistes te voldoen nie. “Demografie speel ‘n uiters belangrike rol. Die Boland Rugby Unie het 222 klubs, waarvan twee wit en die res swart is. Die Pumas het 19 waarvan een swart is, en die res wit. In die suidelike halfrond word daar baie gespeel, maar in die noordelike halfrond word daar nie gespeel nie.”
Saru se nuwe kwotareël stipuleer dat daar minstens sewe spelers van ander rasse in elke span van 22 moet wees, wat aan volgende jaar se Vodacombeker-reeks deelneem, waarvan vyf in die beginspan moet wees. Twee van dié moet voorspelers wees. In vanjaar se Vodacombeker-eindstryd tussen die MTN Golden Lions en die Steval Pumas was drie van die laasgenoemde gekleurde spelers. Daar was net twee gekleurde spelers in die Lions-span. Die Nelspruiters het tans ses gekleurde spelers in hulle geledere.
Mentz het verder gesê dat die raad oneerlik is as hulle sê dat al die unies dié besluit ondersteun. “Almal stem nie saam met die sewe-plan nie. My unie het ’n strategiese plan uitgewerk wat nog nie ter tafel gelê is nie en dus nog nie goedgekeur is nie.”
Laevelder het die volgende rugbykundiges genader om hulle opinie oor die saak te stel:
• Johan Ferreira en Ronald
Msimango van Lowveld High: “Kwotas plaas klem op ontwikkeling, wat ’n goeie
ding is. Ek wonder net – as ’n speler wat nie verdien om in die span te wees
nie, in die plek van ’n talentvolle speler gekies word, of dit ontwikkeling is?
As dit in die spel afgedwing word, is dit op die ou einde ontwikkeling? As talent daardeur weggegooi word, is dit dan regtig talent waarmee jy besig is?”,
sê Ferreira.
Msimango sê dat daar glad nie iets soos kwotas behoort te wees nie. “Dit het sy tyd, plek en doel gehad. Dit behoort geskraap te word. Dit affekteer die spel en dit behoort nie so te wees nie.”
• Gerhard Holtzhausen
van Hoërskool Nelspruit: “Op hoërskoolvlak is die kwotas nóg erger – daar
moet nege spelers in die Cravenweek-span wees, waarvan vier die volle tyd op die
veld moet wees. ‘n Mens kan dus nie ‘n beseerde swart speler met ‘n wit speler
vervang nie. In die akademie-spanne moet dit 11-11 wees. Op skoolvlak is ons al
gewoond aan transformasie, maar ‘n groot probleem in Mpumalanga is dat spelers
van kleur ná hulle gr. sewe-jaar deur ander provinsies opgeraap word. Dus sukkel
ons om goeie spelers van kleur te behou. Daar is nie probleme van ons kant af
met die idee van kwotas nie. My eerlike siening oor die stelsel is dat daar ‘n
uittog van talentvolle spelers gaan wees wat na hulle matriek jaar na lande soos
Japan, Frankryk en selfs Italië gaan.”
As die kwota-reël vir rugby moet geld, behoort dit vir sokker ook te geld? “Ek spreek nie myself oor sokker uit nie, net oor rugby,” het Mentz bygevoeg.
‘n Paar syfers wat deur Saru verskaf is, wys geen definitiewe verskil teenoor die vorige seisoen nie:
• In die Vodacombeker-reeks was die spelers van ander rasse vanjaar 27% teenoor 26% in 2012.
• In die Curriebeker-reeks van 2012 was daar 25% spelers van ander
rasse. Vanjaar se syfers is onbekend, want die reeks het nou eers begin.
• In die afgelope SupeRugby-reeks was daar 20% spelers van ander rasse; 2% meer as verlede jaar.
• Die Springbok-span het in 2012 nege spelers van ander rasse
en 34 wit ingespan.
• In Saterdag se toetsspan wat teen Argentinië uitgedraf
het, was daar drie in die beginspan en nog twee op die bank.
