CrimeNews

Polisieman wat glo vuurwapens verkoop, kry borg

Van sy familielede was baie aggressief teenoor die media

NELSPRUIT – Kapt. Godfrey Lubisi (57), die polisieman wat daarvan verdink word dat hy vuurwapens uit die SAP 13 (polisiekluis) verkoop het, is Woensdagmiddag in die plaaslike distrikshof borg toegestaan.
Verrigtinge is na ete op ‘n dramatiese wyse voortgesit toe ‘n familielid van Lubisi lede van die media rondgepluk het toe hulle foto’s van hom wou neem. Sy kop was heeltyd bedek. ‘n Vrou het geskree dat daar nie foto’s van Lubisi in die hof geneem mag word nie.

Ordonnanse het bloot staan en toekyk en een van die verslaggewers het die landdros, mnr. Mandla Sambo, gaan vra om in te gryp. Dié het toe ingestorm en die familielede berispe.
Hy het ook aan Lubisi se regsverteenwoordiger, ene adv. Madonsela, verduidelik dat die verslaggewers ‘n skriftelike aansoek ingedien het om Lubisi in die hof af te neem en dat dit toegestaan is. Party familielede het aangehou om opmerkings vir die verslaggewers te sis, waarop Sambo gewaarsku het dat hy hulle sal laat opsluit vir minagting van die hof.
Die ondersoekbeampte in die saak, AO Dewald Matthysen, het toe begin getuig oor hoe Lubisi vasgetrek is. Hy is bevelvoeder van die eenheid wat vuurwapenlisensies uitreik en Matthysen-hulle se ondersoek na hom het sowat ‘n jaar gelede begin. “Ek het inligting ontvang dat daar vuurwapens onwettig by die polisiestasie verkoop word. Niemand wou egter ‘n verklaring aflê nie.”
Hy het toe getuig dat iemand hom sowat twee weke gelede gekontak het. “Die getuie het gesê hy wil dringend met my praat en dat hy bang is.” Matthysen het hom ontmoet en die getuie het ‘n .22 by hom gehad. “Hy het gesê dat hy na die polisiestasie gekom het om ‘n vuurwapenlisensie te kry. Hy het aan die beskuldigde (Lubisi) genoem dat sy pa ‘n .303-geweer soek om mee te jag. Die beskuldige het toe gesê dat hy ‘n .303 in die kluis het om te verkoop.”
Volgens Matthysen het Lubisi hom na ‘n kluis by die stasie gevat, dit oopgesluit, ‘n vuurwapen uitgehaal en dit aan die getuie gewys. “Die getuie het die vuurwapen uit die sak waarin dit verseël was gehaal, bekyk en gesê dat dit nie ‘n .303 was nie, maar ‘n .22. Die getuie het sy pa gebel en dié het toe gesê dat hy dit maar kan koop.” Hy het Lubisi na bewering R2 000 daarvoor gegee.
Matthysen het ook getuig dat die oorspronklike eienaar van die .22, ‘n 78-jarige man, aan hom gesê het dat Lubisi twee weke gelede by hom was. “Hy het gesê dat Lubisi daar aangekom het met twee vorms om te onderteken. Hy het nie gesê waarvoor dit was of waarvoor hy moes teken nie.” Matthysen het later vasgestel dat dit aansoekvorms vir ‘n vuurwapenlisensie was.
‘n Tweede getuie het ‘n .357 Magnum Taurus-rewolwer glo onder dieselfde omstandighede gekoop. “Hy het ook R2 000 daarvoor betaal,” het Matthysen getuig. Lubisi het na bewering ‘n dokument aan hom uitgereik om ‘n vuurwapen te stoor wat as sy kwitansie sou dien.
Die ondersoekspan is na Lubisi se arrestasie na sy huis waar hulle, volgens Matthysen, op sy dienspistool afgekom het waar dit sommer onder sy klere versteek was. “Hy het ‘n staatskluis in sy huis wat nie teen die muur gemonteer is nie. Daarbinne was ‘n geroeste .22. ‘n Ballistiese kenner meen dat die reeksnommer moontlik afgeveil is. Lubisi het wel ‘n lisensie vir ‘n .22, maar daar kan nog nie vasgestel word of dit vir die betrokke een is nie.”
Matthysen het ook glo beslag op “belangrike bewysstukke” in Lubisi se privaat-voertuig gelê. “Ek het die vorms wat die 78-jarige eienaar van die .22 moes teken daarin gekry, asook verskeie vuurwapenlisensies wat uitgereik is en nooit aan die eienaars gegee is nie.”
Matthysen het verder getuig dat hy verlede jaar ‘n ander saak teen Lubisi moes ondersoek. “Daar was geld deur Hi-Tech Sekuriteit betaal vir bevoegdheidsertifikate wat hulle nooit ontvang het nie. Daar is later ‘n koevert met dieselfde bedrag geld wat betaal is, in Lubisi se kantoor gekry. Hy het gesê dat hy daarvan vergeet het. Die saak is later deur die klaer teruggetrek.”
Sambo het borg van R5 000 aan Lubisi toegestaan. Die saak is tot 27 September vir verdere ondersoek uitgestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button