CrimeLocal newsNewsNews

Dief kies hasepad na gewapende roof by Pet Shop

'n Dief het die hasepad gekies nadat hy Pets & Pixies Pet Shop onlangs met 'n vuurwapen geroof het.

BURGERSFORT – ‘n Gewapende dief het die hasepad gekies nadat hy Pets & Pixies Petshop beroof het. Volgens die mede-eienaar me. Wanda Pieterse, het die man helder oordag die winkel betree en me. Michelle de Koker, die kassier vir R20 kleingeld gevra.

“Michelle het die kasregister oopgemaak om dit vir die man uit te haal. Toe sy weer opkyk, staan hy langs haar met ‘n vuurwapen op haar gerig. Hy’t beveel dat sy onder die toonbank moet lê en gedreig dat hy haar sal doodskiet as sy nie na hom luister nie. Die man het Afrikaans gepraat, al is dit nie sy eie taal nie,” vertel sy.

Volgens Pieterse het die dief al die geld behalwe die brons uit die kasregister gevat en die skootrekenaar met drade en al asook die muurprop uit die muur geruk. Twee selfone is ook gevat voor hy rustig uit die winkel gestap het. Op pad buitentoe het klante die winkel binnegekom waarna die skelm hul met ‘n arm eenkant toe gestoot het en vertel het dat daar niemand was nie. Die mense het wel gesien hoe Michelle agter die toonbank opstaan nadat die man die winkel verlaat het en hulle het dadelik die polisie geskakel.

“Ek is baie beïndruk met hulle en was minder as vyf minute na die voorval op die toneel en het paaie/strate gesluit om die skelm te probeer vastrek, maar kon nog nie daarin slaag om die man op te spoor nie. Ons is net baie verlig dat Michelle nie seergekry het nie. Sy het reg opgetree,” het Pieterse gesê.

Al het die dief die R20-noot agtergelaat, kan die polisie nie vingerafdrukke daarvan kry nie, omdat geld daagliks deur baie hande gehanteer word. Na die voorval het die troeteldierwinkel hul sekuriteitsmaatreëls verskerp om diefstal te voorkom en die veiligheid van hul klante en werkers te verseker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button