
WATERVAL BOVEN – Polisiewoordvoerder kol. Leonard Hlathi het gesê dat me. Lineth Patricia Mabilane (23) van Emgwenya op 24 Augustus saam met die 20-jarige verdagte gery het drank te gaan koop.
Hulle het met haar kêrel se voertuig gery. Die verdagte het later sonder Mabilane teruggekeer en die voertuig was beskadig. Hy het aan haar vriende gesê dat hy haar iewers afgelaai het omdat sy bang was om huis toe te kom as gevolg van die skade aan die voertuig.
Mabilane het egter nie teruggekeer nie en is later as vermis aangemeld. Die polisie het die verdagte ondervra en hy het na bewering erken dat hy haar verkrag en vermoor het. “Hy het gesê dat hy haar met ‘n houtstomp oor die kop geslaan het,” het Hlathi gesê.
Hy het die plek waar hy glo haar liggaam versteek het, aan die polisie uitgewys. “Die verdagte word ook met verskeie ander sake van roof en huisbraak verbind,” het Hlathi bygevoeg.
Hy sou gister in die hof op aanklagtes van verkragting en moord verskyn.
