WATERVAL BOVEN – ‘n Man wat na bewering ‘n vrou van Emgwenya verlede maand verkrag en vermoor het, is Woensdag borg in die plaaslike landdroshof geweier. Lede van die gemeenskap soek sy bloed en eis dat hy lewenslange tronkstraf opgelê word.
Mnr. Nkosinathi Surprise Gumede (22) is aangekeer nadat hy en me. Lineth Patricia Mabilane (23) op 24 Augustus gery het om te gaan drank koop. Hulle het met Mabilane se kêrel se voertuig gery, maar slegs Gumede het teruggekeer. Die voertuig was beskadig en hy het glo aan haar vriende gesê dat hy haar iewers afgelaai het omdat sy bang was om huis toe te kom omdat die kar in ‘n botsing was.
Mabilane het nooit teruggekeer nie en is later as vermis aangemeld. Die polisie het Gumede aanhou ondervra en hy het glo erken dat hy haar verkrag en vermoor het. Hy het na bewering ondersoekbeamptes na ‘n bos gelei waar hy haar lyk versteek het.
Hy is daarna gearresteer. Gumede het op ‘n stadium van woedende gemeenskapslede probeer vlug en toe erge beserings aan sy ore opgedoen toe hy onderdeur ‘n draad gekruip het. Hy is in ‘n hospitaal in Middelburg behandel voordat hy Dinsdag in die hof verskyn het. ‘n Groep mense het voor die polisiestasie saamgedrom met plakkate waarop hulle geskryf het dat hulle moeg is vir verkragting en dat Gumede lewenslange tronkstraf opgelê moet word, anders maak hulle hom dood.
Hy is borg geweier en moes gister (Donderdag) weer in die hof in Belfast verskyn op ‘n klag van huisbraak waarby hy na bewering in 2010 betrokke was. Hy moet op 25 September weer in die hof in verband met Mabilane se dood verskyn.
Op 11 November sal hy ook in Belfast verhoor word op twee klagtes van huisbraak wat hy glo verlede jaar gepleeg het.
