NELSPRUIT – Die polisie het ‘n groot slag geslaan toe hulle by ‘n huis aangekom het om ‘n egpaar vir beweerde dwelmmisbruik te arresteer en toe op ‘n hele arsenaal wapens en ammunisie afgekom het.
Mnr. Jacobus de Lange (45) en me. Corné Olivier (33) het vroeër vandag in die hof verskyn op klagtes van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die besit van dwelms.
Die polisie is gister na hulle huis in die Krokodilvallei nadat hulle inligting ontvang het dat die egpaar na bewering dwelms besit. Die huis is deursoek en die polisie het op onder andere haelgewere en ‘n 9mm-pistool afgekom. Daar is ook beslag gelê op letterlik honderde koeëls wat vir aanvalsgewere gebruik word.
“Daar is ook 200 klein plastieksakkies met spore van die dwelmmiddel Cat gevind. Die waarde daarvan is maklik R15 000. Daar was skale waarmeer die dwelms afgemeet word,” het kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Dit is nog nie bekend of hulle borg toegestaan is nie.
