NELSPRUIT – Facets beskik nie oor 'n sekuriteitshek nie en het daarom 'n ooreenkoms met sekuriteitswagte, wat behels dat die een aan diens elke halfuur deur die winkel stap en in 'n boek teken. Sou daar 'n groep klante die winkel binnekom, druk die winkelklerk 'n knoppie wat die wag ontbied. Die betrokke wag sal dan in die winkel bly totdat die groep klaar is.
Om 10:00 Dinsdag wou goudsmid me. Alma Beer ook die knoppie druk toe twee mans die winkel binnegekom het. Dit was egter nie nodig nie, aangesien 'n wag die winkel binnegekom het om in die boek te teken. “'n Derde man het my genader en gevra om na oorbelle te kyk. Hy wou kwansuis vir sy suster 'n stelletjie koop,” vertel sy.
Beer vertel dat dieselfde wag wéér die winkel binnegekom het, toe daar nog twee mans instap en na 'n uitstalling begin kyk. “Hy was veronderstel om in die winkel te bly, maar hy het buite gaan staan en teen 'n pilaar voor die deur gaan leun.”
“Nadat ek die man 'n paar stelle oorbelle gewys het, het hy gesê hy gaan gou geld trek.” Beer kon egter deur die winkelvensters sien dat die man nie in die rigting van die kitsbank gestap het nie. “Ek het by die deur gaan staan en gesien dat die vier sowat halfpad in die parkeerterrein afgestap het, toe die vyfde man al trippelend by hul aangesluit het. Ek het vir die wag uitgewys dat hulle nie saam by die winkel aangekom het nie. Sy reaksie was egter pateties en hy wou weet wat ek nou presies vir hom probeer sê,” vertel sy ontsteld.
Sy het in die winkel ingegaan en gesien dat 'n vertoonstel bo-op die kas gepak is, “Al die geelgoud-ringe was gesteel.”
“Ek het toe na die onbehulpsame wag toe gehardloop en geskree dat hulle die winkel beroof het. Sy reaksie was traag, hy het bloot net gesê dat hy iemand sal bel. Ek kon dit nie glo nie!” voeg sy by.
“Ek is nie kwaad vir die sekuriteitsmaatskappy nie. Gewoonlik is die wagte uiters professioneel en laat hulle my baie veilig voel.”
Beer vertel dat sy na die tyd besef het dat sy twee van die verdagtes al voorheen in die winkel gesien het.
“Ek het een van hulle al uitgejaag. Ek vermoed dat hulle geweet het dat my kollega eers 10:00 sou inkom en dat ek alleen sou wees.”
Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit se reaksiebeamptes was vinnig op die toneel, gevolg deur Bossies Community Justice.
“Ons het saam met Hi-Tech die omliggende area afgebaken om vir 'n wit Fiat te soek. Die karwagte het die verdagtes se voertuig geïdentifiseer,” verduidelik Bossies Community Justice se operasionele bestuurder, mnr. Jacques Meiring.
“Ons vermoed dat dit dieselfde wit Fiat is wat by 'n motorkaping in Koedoestraat betrokke was,” meen hy.
