Local newsNewsNews

Barberton se KANSA Relay die beste

Van al die eerstes in Mpumalanga, het hierdie dorp bo die res uitgestaan en is met 'n magdom toekennings bekroon.

BARBERTON – Daar is altyd ‘n eerste vir alles. So was dit ook met Barberton se eerste KANSA Relay for Life (RFL), en ten spyte van die weer wat daardie aand nie saamgespeel het nie, het daar ‘n groot verrassing op die organiseerders gewag.

Tydens ‘n onlangse Mpumalanga Novice-prysuitdeling by ‘n spoggerige oord in Magaliesburg, het verteenwoordiger Annetjie Sampson ‘n hele rits toekennings namens KANSA Barberton se eerste relay ontvang. Van al die eerstes in Mpumalanga, het hierdie dorp bo die res uitgestaan en is met ‘n magdom toekennings bekroon. Barberton is as die RFL waar die meeste survivors teenwoordig was, die meeste spanne wat ingeskryf het asook die grootste inkomste gegenereer het, aangewys.

Christelle Strauss van KANSA Barberton vertel dat hul volgende een vir komende Junie beplan word en dat hulle vuur en vlam is om te verseker dat dit nog beter as die eerste een is.

Intussen sit hulle nie stil nie, maar beplan ‘n Pink Walk vir die bewusmaking van borskanker wat op 19 Oktober tussen 08:00 en 10:00 plaasvind. Almal word gevra om pienk te dra asook pienk bewusmakingsplakkate te vertoon.

Hulle gaan by Wimpy by die Jock-sentrum wegspring, in Generaal- en Presidentstraat afstap en verder om terug tot by die Wimpy te kom.

As beloning kry deelnemers ‘n Wimpy Cuppa, ‘n ekstra lekkerte bestaande uit ‘n Wimpy-koffie en ‘n pienk kolwyntjie.

Die inskrywingsgeld beloop soos volg: bo 12 – R50, onder 12 – R30 en kinders van twee jaar en jonger gratis.
“Ek nooi almal uit om ons te kom ondersteun. Dis nie net vir ‘n goeie doel nie, maar gaan ook hope pret wees.
Baie dankie aan almal wat deel was van ons eerste RFL. Indien dit nie vir julle ondersteuning was nie, sou Barberton nooit met soveel toekennings weggestap het nie,” sê Strauss.

Navrae: Christelle Strauss by 083-655-4289/Annatjie Sampson by 084-506-5682/Marisa Engelbrecht by 082-259-8071.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button