Rommelkwessie ruk handuit
Die Mbombela Munisipaliteit is besig om talle inwoners verkeerd op te vryf oor die vuil toestand waarin woongebiede gelaat is nadat hulle in sommige areas meer as twee weke laas rommel verwyder het.

NELSPRUIT – Na bewerings word van die rommeltrokke by Union Motors gediens, maar volgens ’n betroubare bron kan die maatskappy nie aangaan met die diens van die trokke nie omdat die munisipaliteit nog nie daarvoor betaal het nie.
Hope swartsakke lê voor huise in areas soos West Acres, Steiltes en Stonehenge.
Versoeke oor die afgelope drie weke oor dié kwessies beland voor dooiemansdeur aangesien die woordvoerders van die munisipaliteit, Bessie Pienaar en Joseph Ngala, steeds navrae ignoreer.
Laevelder het Vrydag die strate ingevaar om inwoners vir hul mening omtrent die gemors wat hulle in die gesig staar, uit te vra. In areas soos Barberton en Witrivier het inwoners laat weet dat hulle nie met bogenoemde sukkel nie.
Hier is wat inwoners oor die kwessie te sê gehad het:
• Etienne Roux: Die spul tree soos ’n sirkus op. Dalk moet ek my rommel voor hulle deure gaan gooi.
• Pippa Botha:
Ons rommel staan al meer as ’n week in die strate. Die katte en honde verskeur die sakke en ek weier om dit op te tel. As belasting of rekeninge nie betaal word nie, dan word daar egter vinnig teen ons opgetree.
• Jalize LeeAnn: Ons behoort onsself die volgende af te vra:
hoekom sit ons soveel verantwoordelikheid op ‘n stelsel terwyl ons nie die
kapasiteit het om dit uit te voer nie? So lank as wat ons wys dat ons ongelukkig
is, weet hulle dat hulle gewen het en die lewe vir ons baie moeilik gaan maak.
• Elna Myburgh Peens: Ek woon in Stonehenge in ‘n kompleks en dis net een hoop vullis. Ek weet nie waarheen gaan hierdie landjie van ons nie, regtig! Ry maar deur die strate, dit lyk soos ‘n Derde Wêreldland! Laat my dink aan Maputo destyds. Wat ‘n verleentheid vir só mooi stad, net jammer dit staak permanent.
• Chene Bothma: Dit is ongelooflik frustrerend, maar elke maand moet ons getrou ons water- en kragrekeninge betaal anders word dit afgesit. Ons moet almal ons swartsakke op hulle stoep gaan sit.
• Sas Keyser: Daar was ‘n tyd toe die mense wat in beheer was hiervan, dit met trots gedoen het en as daar dan slegte stakende gepeupel nie opgedaag het vir werk nie, het hul vrywilligers gekry om die werk voort te sit tot tyd en wyl.
• Marlene Olivier: Dit is ‘n diens wat deur die munisipaliteite nog al die jare gelewer is; dit is ‘n diens wat móét gelewer word, want ons betaal daarvoor. Dit is belangrik dat die munisipaliteit drastiese veranderings en verbeterings moet aangaan. Een trok om die hele Nelspruit se vullis weg te ry? Dit is pateties.
• Pieter Botha: Die hope vullis lok nou die ongewenste elemente uit hulle gate
en dan nie eers gepraat van die rondloperhonde wat die sakke oopskeur
nie. Wat staan ons gemeenskap te doen? Wat sal die oplossing wees?
Besoek www.lowvelder.co.za om na die beeldmateriaal te gaan kyk waar Laevelder
met Niel Smit en Panwel Panda oor die toestand van woongebiede gesels.
