Nelspruit se leë huise is ‘n groot kopseer vir plaaslike sekerheidsmaatskappye.
Volgens mnr. Vernon Lancaster van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, gebruik vermeende rowers hierdie wonings as skuilplekke vanwaar hulle misdade beplan en bedryf. Hulle gebruik dit blykbaar ook om die gesteelde goedere te versteek om dit later te gaan haal.
“Vandat ek kan onthou word leë huise gebruik om misdaad in die stad te bedryf. Die rowers kruip hier weg en ons het selfs al in die verlede swart klere en gereedskap in die plafon gekry,” vertel Lancaster. “Die diewe bêre hul klere en gereedskap daar om dit later in die aand te gaan haal en die misdade te pleeg. Daarna keer hulle weer terug en bêre hulle buit daar.”
“Die diewe steel ook items wat in die huise is, soos byvoorbeeld die krane, lampskerms, deurrame, die stoof en diefwering. Hulle gaan
dit dan aan pandjieswinkels en skrootwerwe in die stad verkoop.” Volgens Lancaster moet huiseienaars wat langs leë huise woon, bedag wees op die bewegings in en rondom daardie eiendom. Die eienaars van die onbewoonde wonings moet verantwoordelikheid neem en die eiendom in stand hou, al bly niemand daar nie. “Dit wil voorkom asof mense nie meer in hul eiendom belangstel nie. “Hulle moet ten minste seker maak dat wanneer die huis leeg staan, die alarm nog geaktiveer is sodat die eiendom nog gemonitor kan word.
Indien ons kliënte ons oor sulke leë huise nader, kan daar reëlings getref word dat ons dit gereeld besoek en seker maak dat geen misdade daar gepleeg word nie.”
