CrimeNews

Saak teen Johan Blom geskrap

Koekemoer het 'n siviele eis teen Blom ingedien wat volgende jaar in die hooggeregshof aangehoor sal word

NELSPRUIT – ‘n Bekende sakeman het Vrydag as ‘n vry man uit die plaaslike landdroshof gestap omdat die man wat hom aangekla het van aanranding met die opset om ernstig te beseer, wéér nie vir die verhoor opgedaag het nie.
Die saak teen mnr. Johan Blom is van die rol geskrop nadat hy mnr. Reghardt Koekemoer na bewering in November 2011 met ‘n glas gegooi het. Koekemoer het byna sy oog verloor en kan nog steeds niks uit dit sien nie.
Blom en sy seun, mnr. Matt Blom, het die aand van die voorval by Coyotes gekuier. Koekemoer was ook daar en hy en Matt was in ‘n onderonsie betrokke. Koekemoer is later na die ander kant van die kroeg. Daar kan op beeldmateriaal van kringtelevisiekameras gesien word hoe Blom ‘n glas in Koekemoer se rigting gooi. Hy het oomblikke later sy bloeiende regteroog met sy hande bedek.
Hy is na Rob Ferreira Hospitaal geneem en het sedertdien al talle operasies ondergaan. Hy het nog steeds geen sig in die oog nie.
Blom moes Vrydag weer in die hof verskyn. Koekemoer was nie daar nie en Blom se prokureur, mnr. Coert Jordaan, het die hof versoek om die saak van die rol te skrap aangesien dit die tweede keer was wat Koekemoer nie opgedaag het nie. Die dossier was ook nie by die hof nie.
Koekemoer het by navraag gesê dat hy nooit gedagvaar is om Vrydag in die hof te verskyn nie. “Die ondersoekbeampte het gesê dat hy my sou laat weet wanneer ek by die hof moes wees. Ek het nooit weer iets van hom gehoor nie.” Hy het wel ‘n siviele eis teen Blom ingestel en het gesê dat die saak volgende jaar September in die hooggeregshof aangehoor sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button