
SKUKUZA – Een van die mees gesoekte vermeende renosterstropers is Dinsdag buite die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) aangekeer. Hoewel ‘n SANParke veldwagtersuniform in sy besit gekry is, is daar by navraag gesê dat hy nié ‘n veldwagter is nie.
Mnr. Patrick Mfana Mona (31) is by Cork Trust aangekeer deur beamptes van SANParke en die polisie se honde- en forensiese eenhede. “Hy word daarvan verdink dat hy deel is van ‘n groep wat in die wildtuin en omliggende reservate stroop,” het mnr. Ike Phaahla, ‘n SANParke-woordvoerder, gesê.
‘n .308-jaggeweer, twee 9mm-pistole, ammunisie, ander jaggereedskap en moontlike renostermateriaal, is ook na bewering in sy besit gekry. Mona het Woensdag in die hof verskyn en die saak is uitgestel na Donderdag sodat hy regshulp kon kry.
Daar is dieselfde dag drie vermeende stropers in die Malalane-gedeelte van die wildtuin aangekeer. Veldwagters het op hulle afgekom en die twee groepe het op mekaar begin skiet. Een is gewond en hulle almal is gearresteer. Daar is beslag gelê op ‘n .375-jaggeweer, ammunisie en ander jagtoerusting. Hulle het ook Woensdag in die hof verskyn en moet weer op 25 September voorkom vir ‘n borgaansoek. Hulle name was teen druktyd nog nie bekend nie.
Daar is nou al 635 renosters sedert die begin van die jaar in die wildtuin gestroop.
Intussen het Beeld berig dat die Vredesparkstigting en Ezemvelo KZN hulle renosters se horings met gif wil inspuit im ‘n poging om hulle teen stropers te beskerm. Daar word van ‘n ektoparasietdoder en ‘n rooi vloeistof gebruik gemaak. Volgens Beeld het dr. Charles van Niekerk, ‘n wildveearts wat die prosedure uitvoer, gesê die mengsel word vinnig en maklik in die dier se horing gespuit en is glad nie skadelik vir die dier nie. Die rooi vloeistof is duidelik sigbaar en sal dit baie onaantreklik vir stropers maak. Dié prosedure word tans in Tembe en Ndumo uitgevoer.
Phaahla het bevestig dat die stigting ‘n soortgelyke voorstel aan die bestuur van die wildtuin gedoen het.
“Ons het baie om te oorweeg en dit sluit in:
• die fisiese impak op renosters elke keer as hulle verdoof moet word. Ons wetenskaplikes wil eers ‘n studie daaroor doen.
• die wildtuin het ‘n reuse aantal renosters. Sal ons hulle werklik kan red deur die horings met gif in te spuit? Daar is al renosters op ander reservate gestroop al was hulle horings ingespuit.
• sal ons dit kan bekostig op die langtermyn?
“Ons glo elke moontlikheid moet benut word en ons moet daarom eers hierdie belangrike vrae beantwoord voordat ons deel kan word van so ‘n projek.”
