CrimeNewsUpdate

Man in sop oor waarskuwingskoot

'n Dreigende skare lei tot die arrestasie van twee mans en 'n saak van poging tot moord in Nelspruit.

NELSPRUIT – Die eienaar van ‘n onderneming in Besterstraat is in die sop nadat hy ‘n waarkuwingskoot afgevuur het in die straat. Twee mense is na bewering beseer, dit is egter nie duidelik of beide raakgeskiet is nie, Laevelder kon geen bevestiging van enige ambulansdienste kry dat nooddienste ontbied is nie.

Volgens mnr. Shaun Terblanche van J&M Sekuriteit het hulle net na 08:00 ‘n panieksein vanaf ‘n kliënt ontvang. ‘n Man het oor die foon geskree, “Julle moet vinnig kom!”

Mnr. Hennie Potgieter van J&M vertel dat die eienaar van ‘n motorwerkswinkel en ‘n kliënt handgemeen geraak het.
Die eienaar se vrou het om hulp gaan aanklop by ‘n naburige onderneming en mnre Gerhard Nel en Hansie Pieters het toe gaan help.

Volgens Potgieter het Nel en Pieters gepoog om die ontstoke kliënt na die straat te begelei waar laasgenoemde weereens ‘n geveg begin het.

Toe een van die mans val, het sy vuurwapen vanuit sy pistoolsak in die straat beland.

‘n Skare mense, onder andere ook ‘n groep sogenaamde straatmotor-werktuigkundiges waaroor Laevelder en Nelspruit Post al talle kere berig het, het op die twee toegesak en na bewering het een vanuit die skare probeer om die vuurwapen te gryp. Dit is toé dat Nel  ‘n waarskuwingskoot in die sypaadjie vuur. Twee omstanders is as na bewering as gevolg hiervan beseer.

Reaksieoffisiere van J&M en lede van die SAPD het kort hierna opgedaag en die skare onder beheer gebring.

Die SAPD het bevesig dat twee mans gearresteer is en beslag op twee vuurwapens gelê is.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek, asook die rig van ‘n vuurwapen en die afvuur van ‘n skoot in die openbaar. Die mans het die res van die naweek agter tralies deurgebring en het Maandag in die hof verskyn. Beide is op borg van R1000 vrygelaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button