NGODWANA – Die verdwyning van me. Angela Michaels (38) byna twee maande gelede, bly ‘n raaisel.
Michaels is ‘n rekenmeester van Gauteng. Sy het vroeg in Augustus met ‘n huurmotor langs ‘n treinspoor in Ngodwana gestop, haar besittings uitgegooi en dit aan die brand gesteek. Sy het met twee sakke in ‘n nabygeleë plantasie verdwyn en die bosse glo ook aan die brand gesteek.
Mans wat dit gesien gebeur het en haar gedrag vreemd gevind het, het die polisie in kennis gestel. Lede van die honde- en duikeenhede en dié van Offroad Rescue Unit het die gebied gefynkam, maar kon haar nie vind nie. Selfs ‘n soektog vanuit ‘n helikopter het niks opgelewer nie.
Sy is aanvanklik nie as vermis deur haar familie aangemeld nie. Eers nadat die polisie met haar familie kontak gemaak en hulle van haar optrede vertel het, was ‘n dossier oopgemaak. Enige iemand met inligting word versoek om kol. Leonard Hlathi by
082-462-0804 te skakel.
