NewsNews

Vermeende inbrekers loop hul rieme styf

Reaksielede was spoedig op die toneel en het die mans naby Westend afgetrek

NELSPRUIT – Vermeende diewe wat hul buit glo in ‘n veld versteek het, is Dinsdagoggend in hegtenis geneem. Die drie mans is na wat verneem word, deur iemand opgemerk terwyl hulle die beweerde gesteelde goedere in ‘n kar gelaai het.

Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies’ Community Justice, het die inbraak vermoedelik laat Maandagaand plaasgevind. Die inwoners van die huis was met vakansie in Mosambiek. Die verdagtes het glo toegang verkry deur die diefwering oop te breek.

“Hulle het die huis omtrent leeggedra,” het hy gesê. “Hulle het elektroniese toestelle, toebehore, klere en bevrore vleis gevat.” Dié is toe na bewering in ‘n stormwaterpyp in ‘n veld oorkant die huis versteek.

Hulle is vroeg gister deur ‘n verbyganger gewaar terwyl hulle langs die R40 ‘n wit VW Golf met die goedere gelaai het.

Mnr.Vernon Lancaster van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het gesê dat hulle kort na 06:00 die oproep ontvang het. Reaksielede was spoedig op die toneel en het die mans naby Westend afgetrek.

Nog goedere is op die toneel gekry. Volgens Meiring is daar ‘n besigheids-kaartjie van een van die inwoners gevind, en hulle het die huis so opgespoor. Die polisie is ontbied en vingerafdrukke is geneem, terwyl die verdagtes na die polisiestasie geneem is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button