NELSPRUIT – Kapt. Godfrey Lubisi (57), het sy ontsl ag uit die polisie gekoop. Hy is verlede maand gearresteer omdat hy daarvan verdink word dat hy vuurwapens uit die SAP 13 (polisiekluis) verkoop het en het gevolglik bedank.
Lubisi moes vuurwapenlisensies aan aansoekers uitreik. Intussen het kapt. Ronel Bekker, voormalige waarnemende stasiebevelvoerder van Witrivier se polisiestasie, sy pligte oorgeneem. Lubisi sal nou net die pensioen kry wat hy tydens sy 36 jaar diens aan die staat moes betaal. Hy verbeur nou Polmed – ‘n mediese fonds waaraan polisielede kan behoort – en ander voordele.
Polisielede wat krimineel aangekla word bedank dikwels om ‘n departementele verhoor en moontlike skuldigbevinding, vry te spring.
Lubisi is aangekeer nadat AO. Dewald Matthysen inligting ontvang het dat daar vuurwapens by die polisiestasie verkoop word. Hy het vroeër in die hof getuig dat iemand hom genader het en beweer het dat hy ‘n .22 by Lubisi gekoop het.
‘n Tweede getuie het ‘n .357 Magnum Taurus-rewolwer glo onder dieselfde omstandighede by hom gekoop. Lubisi is na bewering telkens R2 000 vir die wapens betaal.
Die saak teen hom is uitgestel tot 18 Oktober vir verdere ondersoek.
