CrimeNewsUpdate

Sakeman gaan weer aangekla word

Koekemoer en sy pa, mnr. Pieter Koekemoer, was baie verbaas om te hoor dat hulle eintlik verlede maand in die hof moes gewees het

NELSPRUIT – ‘n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer gaan teen ‘n bekende sakeman van Nelspruit geheropen word.
Mnr. Johan Blom het verlede maand as ‘n vry man uit die hof gestap omdat die dossier teen hom weer eens nie by die hof was nie en omdat sy vermeende slagoffer, mnr. Reghardt Koekemoer, nie vir die verhoor opgedaag nie. Die saak sloer al sedert Desember 2011 toe Blom na bewering Koekemoer se oog byna met ‘n glas uitgegooi het.
Koekemoer en sy pa, mnr. Pieter Koekemoer, was baie verbaas om te hoor dat hulle eintlik verlede maand in die hof moes gewees het. Koekemoer jnr. hou vol hy is nooit in kennis gestel nie. Sy pa het kol. Gerrie Agenbag, Nelspruitse speurhoof, geskakel en sy ongelukkigheid daaroor uitgespreek.
Kapt. Dawie Pretorius, polisiewoordvoerder, het toe by navraag gesê dat Blom weer gedagvaar sal word om in die hof te verskyn. “Die datum sal vasgestel word sodra die dagvaardiging uitgereik is,” het hy gesê.
Koekemoer jnr. en Blom en sy seun, mnr. Matt Blom, het die betrokke aand by die eertydse Coyotes gekuier. Koekemoer en Blom jnr. het in ‘n argument betrokke geraak. Blom snr. het Koekemoer toe na bewering met ‘n glas gegooi wat hom in die oog getref het. Hy moes sedertdien verskeie operasies ondergaan en kan nou nog nie uit die oog sien nie.
Hy dagvaar Blom ook siviel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button