
SABIE – Die vlaag misdaad wat die omgewing die afgelope week getref het, het hierdie dorp ook nie ontsien nie toe die eienaars van ‘n bekende oord aangeval en beroof is. Vier gewapende mans het die paartjie Donderdag teen ongeveer 22:00 by die Mac Mac Forest Retreat oorval en die man aangerand.
Die rowers het met ‘n onbekende bedrag kontant asook die slagoffers se Toyota Fortuner op die vlug geslaan. Die voertuig is Vrydag in Masoyi gevind. Vier verdagtes is hierna ondervra en ‘n uitkenningsparade het Maandagoggend plaasgevind. Geen arrestasies is egter gemaak nie. Volgens kol. Leonard Hlathi kon geen verband tussen hierdie vier mans en die misdaad gevind word nie.
Hlathi het bevestig dat hierdie insident onafhanklik van die onlangse rooftogte in Hazyview ondersoek word.
Hy sê ook dat die gemeenskap saam met die polisie moet begin werk om sulke kriminele vas te trek. “Hulle kom nie van ‘n ander planeet af nie, maar bly tussen ons!” het hy gesê.
Kontak AO Vusimuzi Maphanga by 076-931-8747 of die Graskop-polisiestasie by 013-767-1122 met enige inligting.
