NELSPRUIT – Die mense van Nelsville is keelvol vir misdaad en het verlede week hul misnoë by ‘n gemeenskapsvergadering teenoor die polisie uitgespreek.
“Ons gaan nie wag vir die nikswerd-polisie om iets te doen nie,” het een ontstoke man geskree. Sy uitlating is deur etlike ander beaam. Die groep van ongeveer 30 het met die DA-raadslid vir die wyk, mnr. Werner le Grange, asook die sektorbevelvoerder, kapt. Thandi Shibango vergader. Shibango het terugvoer rakende die punte wat tydens ‘n vorige vergadering deur die gemeenskap uitgelig is, gegee.
Die misdaadprobleme in Nelsville
Dit sluit veral die misbruik van alkohol, die verkoop van dwelms en die SAPD se onvermoë om wet en orde te handhaaf in. Die gebrek aan munispale wette is gereeld aangeraak, veral in die verduideliking oor die rol van die polisie versus dié van die munisipaliteit, soos gegee deur stasiebevelvoerder, brig. Bheki Thabethe.
Die dryf van handel na toegelate ure asook drankmisbruik by die munisipale swembad, moet volgens hom deur Mbombela aangespreek word. Le Grange het aan Laevelder verduidelik dat die dorpswette verval het en dat oortreding hiervan nie vervolg kan word alvorens nuwe wette van krag gemaak word nie.
Hulle weet wie die dwemlsmouse en kriminele is, het inwoners laat hoor. Shibango het gesê dat hierdie inligting aan haar verskaf kan word buite die publieke forum van die vergadering. “Ons het konkrete bewyse nodig,” het Thabethe ook meegedeel, en bygevoeg dat die SAPD ondersoek met die doel om te arresteer, en nie arresteer met die doel om te ondersoek nie. Ten spyte hiervan het ‘n man gedreig dat hy “hulle in die kop sal skiet,” met verwysing na die kriminele element in die buurt.
“Jy moet die polisie in jou eie huis wees”
Thabethe het aan die groep gesê dat hulle self ook polisiëring moet toepas. Heelwat van die probleme in die buurt gaan met drankmisbruik gepaard. ‘n Winkel-eienaar het vertel dat hy ten alle ure van die nag wakker geskree word as besope mense sigarette soek.
“Vyftien polisiemanne kon nie ‘n dronk man uit my kantien verwyder nie!” het die eienaar van ‘n kuierplek gesê. Probleme met klante is die verantwoordelikheid van die eienaar, volgens Thabethe. Le Grange het laat hoor dat die gemeenskap egter hul vertroue in die SAPD plaas om wet en orde in die buurt te handhaaf. Shibango het bevestig dat meer gereelde stop-en-ondersoek operasies in Nelsville uitgevoer sal word.
• Nelspruit SAPD-by 013-751-6000 of 076-731-6431
• Sektorbevelvoerder kapt. Thandi Shibango by 082-303-9691
• Nelspruit-stasiebevelvoerder brig. Bheki Thabete by 082-565-7506.
