Herfsakker kry ‘n welkome skenking
NELSPRUIT – Danksy Bateleur Landgoed se kunsmark het die SAVF Herfsakker Ouetehuis nou genoegsame fondse om die dak van die gebou te herstel. Die organiseerders het Donderdag ‘n bedrag van R9 050 aan Dirk Joubert, Herfsakker se bestuurder oorhandig. Bateleur se eerste kunsmark is op 27 en 28 September met die tema “Happiness is home-made/’n …
NELSPRUIT – Danksy Bateleur Landgoed se kunsmark het die SAVF Herfsakker Ouetehuis nou genoegsame fondse om die dak van die gebou te herstel. Die organiseerders het Donderdag ‘n bedrag van R9 050 aan Dirk Joubert, Herfsakker se bestuurder oorhandig.
Bateleur se eerste kunsmark is op 27 en 28 September met die tema “Happiness is home-made/’n Landgoed vol geskenke” gehou. Daar was deurlopend ‘n toestroming van besoekers, selfs van Komatipoort, Lydenburg, Witrivier en Sabie.
Tydens die reël van die mark is daar besluit om 10% van elke uitstaller se winste aan Herfsakker te skenk. Almal was egter so gemotiveerd om die ouetehuis te help dat die winste van die koektafel en die wit olifant-tafel ook geskenk is.
Terwyl besoekers deur die produkte gesnuffel het, is agtergrondmusiek deur Lood van Rooyen (kitaar), Petro Prinsloo (trekklavier) en Johan Nagel (klawerbord) verskaf. Hans en Mariette Nieman het die teetuin beman en klante met die heerlike aroma van egte koffie gelok, terwyl Dirk van Rooyen se worsbroodjies so vinnig verkoop het, dat hy nog voorraad moes aanskaf.
Kinders kon hul hand aan pottebakkery waag en Ronnie Kotze het hulle gehelp om ‘n kleipot te draai. Elke kind het R20 afgestaan wat ook aan Herfsakker geskenk is. Die organiseerders het na afloop van die mark heelwat boodskappe van inwoners ontvang. Bettie de Villiers (85), inwoner van Kolgans het geskryf: “Baie dankie! Die kunsmark het ‘n wonderlike atmosfeer gehad. Daar was ‘n verbasende verskeidenheid van tuisgemaakte artikels en heerlike eetgoed en kuns van hoë standaard. Daar is gesels en geëet en besoekers was traag om die gesellige byeenkoms te verlaat. Dit was vir seker oor en oor die moeite werd. Doen dit asseblief spoedig weer!”
Denise Williams, ‘n inwoner van Berghaan, sê dat sy ‘n wonderwerk op Bateleur ervaar het. Die organiseerders wil graag al die besoekers vir hul ondersteuning bedank, asook almal wat tot die suksesvolle kunsmark bygedra het.
