Local newsUpdate

Angie se wonderwerkpad van koma tot klein treetjies

Ná ’n bykans noodlottige ongeluk en weke in ’n koma toon Angie Ferreira merkwaardige herstel danksy intensiewe rehabilitasie en groot gemeenskapsondersteuning.

“Awesome, awesome, awesome!”

Só het Angelica ‘Angie’ Ferreira (26) onlangs reageer toe Laevelder haar vir die eerste keer sedert haar bykans noodlottige ongeluk in Julie verlede jaar self kon hoor praat. Haar spraak is steeds aangetas, “Maar God is goed vir ons,” het sy gesê.

Ferreira het ernstige hoofbeserings opgedoen toe haar motor in die vroeë oggendure van 6 Julie 2025 op die KaMagugu-pad gerol het nadat sy ‘n vriendin ná die Innibos-fees afgelaai het.

LEES OOK: Mbombela-instrukteur eers 10 uur ná ongeluk opgespoor

Die voertuig het ‘n ent die veld in tot stilstand gekom, maar sy was nêrens te vinde nie.

Angie Ferreira, Charmaine Ngomane en Cathy Reyneke kort nadat die gips van Angie se voete verwyder is.
Angie Ferreira, Charmaine Ngomane en Cathy Reyneke kort nadat die gips van Angie se voete verwyder is.

Frikkie Mattheus van Mvikeli Protection Services was die eerste persoon op die toneel. Hy het die wrak met die ligte nog aan gesien, maar geen spoor van ‘n bestuurder of passasier gevind nie.

Hy het die polisie gebel, maar toe die insleepdiens later die motor verwyder het niemand besef Ferreira lê nog in die veld nie.

LEES OOK: Woman survives 10 hours in veld after Mbombela car crash

Mattheus het egter later na die toneel teruggekeer, waar hy ‘n lêer met persoonlike besonderhede opgetel het.

Hy het die adres opgevolg en is ingelig dat ‘n jong vrou met ernstige beserings in Rob Ferreira-hospitaal opgeneem is.

LEES OOK: Angie vier haar verjaardag saam met familie in Mbombela

Omstreeks 11:00 op dieselfde dag het Xolani Mthembu toevallig by die toneel gestop nadat hy ‘n los wiel langs die pad gesien het. Hy het ook ‘n domkrag opgetel en toe ‘n figuur agter ‘n boom in die gras opgemerk.

Angie Ferreira se voertuig na die ongeluk.
Angie Ferreira se voertuig na die ongeluk.

“Die eerste ding wat ek gedoen het, was om vir ‘n pols te voel. Toe ek haar borskas effens sien beweeg, het ek geweet sy leef en dringend hulp nodig het,” het hy vertel.

Ferreira het meer as 10 ure lank in die koue gelê, sowat ses meter van die wrak af.

Mthembu het onmiddellik ‘n ambulans ontbied. Ferreira is met erge hoofbeserings na Rob Ferreira-hospitaal geneem, waar sy in ‘n koma geplaas is.

LEES OOK: 7 weke ná motorongeluk: Angie Ferreira groet haar ma weer

Sy het sewe weke lank in ‘n koma gebly.

Toe sy uiteindelik haar bewussyn herwin, was haar liggaam stukkend: sy kon nie praat nie, nie loop nie, en was in ‘n rolstoel. Spierspasmas het haar arms en hande styf inmekaar getrek.

Haar ma, Antoinette Massyn, het verduidelik dat dokters haar met ‘n diffuse axonale besering gediagnoseer het – ‘n ernstige vorm van breintrauma wat veroorsaak word wanneer die brein vinnig binne die skedel beweeg en senuweevesels skeur.

LEES OOK: 7 weke ná motorongeluk: Angie Ferreira groet haar ma weer

Ferreira is later na die M-Care-fasiliteit oorgeplaas vir rehabilitasie.

Omdat sy nie ‘n mediese fonds het nie het die familie ‘n skarebefondsingsveldtog geloods om die koste van sowat R300 000 vir drie maande se intensiewe rehabilitasie te dek.

Sedertdien het sy stelselmatig begin aansterk.

Onlangs is haar Achilles-seninge verleng, wat haar in staat stel om weer platvoet te staan en klein treetjies te gee. Sy het fisioterapie, spraak- en gehoorterapie begin, en ‘n tandarts uit Mbombela het vir haar ‘n stel valstande geborg.

Haar ouma, Cathrine Reyneke, sê: “Dit is ongelooflik hoe goed die Here vir ons is. Haar rehabilitasie het dié week skielik net uit onverwagte bronne in plek geval. Ons is uit die hart uit dankbaar vir die gemeenskap wat Angie sedert die ongeluk met gebede en finansiële steun dra.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button