NGODWANA – ‘n Rekenmeester van Gauteng wat in Augustus hier verdwyn het, se lyk is uiteindelik gistermiddag gevind.
Me. Angela Michaels (38) het op 3 Augustus haar huurmotor langs ‘n treinspoor gestop, haar persoonlike besittings uitgegooi en aan die brand gesteek. Sy het ‘n nabygeleë plantasie ook aan die brand gesteek voordat sy in die bosse verdwyn het.
Mans wat haar gesien het, het haar gedrag vreemd gevind en die polisie in kennis gestel. Lede van die polisie se duik- en honde-eenhede asook hulle lugvleuel het na haar gesoek – sonder sukses.
Haar familie het by die polisie gehoor dat sy weg is en haar toe eers as vermis aangemeld. Werkers van ‘n lodge naby waar sy verdwyn het, het gistermiddag bosse afgekap en toe op haar lyk afgekom.
Dit is erg ontbind en die oorsaak van haar dood sal met ‘n lykskouing bepaal moet word. Haar familie is reeds in kennis gestel.
