
WITRIVIER – ‘n Man (82) is gisteraand op sy plaas by Spitskop vermoor. Sy lyk is eers vandag ontdek toe iemand gaan kyk het hoekom nie hy of sy vrou hulle seun se oproepe beantwoord het nie.
Mnr. Hennie Potgieter van J&M Sekuriteit, het by navraag gesê dat mnr. Gerhard de Beer glo gistermiddag laat na buite is om ‘n pomp te gaan afsit. Sy vrou (haar naam is nie bekend nie) het binne gestaan en kosmaak. Mnr. De Beer het teruggestap na die huis en dit lyk of hy by die agterdeur oorval is.
“Hy is dood op die bed aangetref. Dit lyk of hy aan erge kopwonde beswyk het,” het Potgieter gesê. Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dat hulle eers vandag van die voorval ingelig is. “Die oumense se selfone is gesteel. Hulle seun wat in Pretoria bly, het bekommerd geraak toe hy hulle nie in die hande kon kry nie. Hy het iemand gevra om te gaan kyk of iets fout is en mnr. de Beer se lyk is toe ontdek.”
Sy vrou (81) is ook beseer en na ‘n hospitaal gebring. Die egpaar se TV is ook gesteel, maar na bewering buite die huis gevind. Die polisie probeer nog vasstel of daar van die egpaar se vuurwapens moontlik gebuit is.
Enige iemand met inligting word versoek om AO. Koos Olivier op 082-853-3165 of 082-449-0334, te skakel.
