CrimeNewsUpdate

Lykskouing op Angela Michaels na verwagting more gedoen

Die lyk is definitief dié van 'n vrou

NGODWANA – ‘n Rekenmeester van Gauteng wat in Augustus hier verdwyn het, se lyk is uiteindelik Donderdagmiddag gevind.

Me. Angela Michaels (38) het op 3 Augustus haar huurmotor langs ‘n treinspoor gestop, haar persoonlike besittings uitgegooi en aan die brand gesteek. Sy het ‘n nabygeleë plantasie ook in vlamme gehad, voordat sy in die bosse verdwyn het.

Die mans wat dit gesien het, het haar gedrag vreemd gevind en die polisie daarvan in kennis gestel. Lede van die polisie se duik- en honde-eenhede asook hulle lugvleuel het na haar gesoek – sonder sukses. Haar familie het by die polisie gehoor dat sy weg is en haar toe eers as vermis aangemeld.

Werkers van ‘n lodge naby waar sy verdwyn het, het Donderdagmiddag bosse afgekap om ‘n pad te maak na ‘n nabygeleë rivier en toe op die lyk afgekom. Polisiebeamptes en lede van Off-road Rescue Unit is Vrydag na die toneel om na van haar beendere te gaan soek. Dit was erg ontbind, wat daarop dui dat sy lank reeds dood is.

Hoewel DNS-toetse nog gedoen moet word, is die polisie byna seker dat dit Michaels se lyk is. “Dit is definitief dié van ‘n vrou. ‘n Bra was duidelik sigbaar en die persoon het lang, swart hare gehad wat aan Michaels se beskrywing voldoen,” het ‘n ingeligte bron gesê.

‘n Lykskouing sal na verwagting vandag gedoen word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button