Bedrywige tydperk vir Bossies
Die afgelope twee weke het Bossies Community Justice gehelp om verdagtes in ses verskillende operasies vas te trek. Die maatskappye poog om die polisie te ondersteun en werk saam met verskeie sekuriteitsmaatskappye in Nelspruit. Op 1 Oktober het Bossies gehelp om drie verdagtes , wat met gesteelde eiendom in ‘n wit VW Golf gevlug het, in …

Die afgelope twee weke het Bossies Community Justice gehelp om verdagtes in ses verskillende operasies vas te trek. Die maatskappye poog om die polisie te ondersteun en werk saam met verskeie sekuriteitsmaatskappye in Nelspruit.
Op 1 Oktober het Bossies gehelp om drie verdagtes , wat met gesteelde eiendom in ‘n wit VW Golf gevlug het, in hegtenis te neem. Hulle het daarna die perseel opgespoor waar die misdaad gepleeg is en het gesorg dat vingerafdrukke na die polisie gestuur word. Die eienaars, wat uitstedig was, is ook in kennis gestel.
Die volgende dag het die span en Hi-Tech twee verdagtes van kommersiële bedrog van ongeveer R70 000 vasgetrek. Op 4 Oktober is ‘n wenk opgevolg en twee mans met gesteelde eiendom is gearresteer.
‘n Huiseienaar in Stonehenge het op 5 Oktober drie verdagtes op die erf gemerk en Bossies geskakel. Die verdagtes het die motorhuis oopgebreek en by ‘n voertuig ingebreek. ‘n Karavaan is ook oopgeforseer en goedere is daaruit gesteel. Hulle het gevlug toe beamptes op die toneel opdaag. Meeste van die gesteelde goedere is later in ‘n nabygeleë veld gevind.
Op 8 Oktober is ‘n man in hegtenis geneem, twee weke na hy vermoedelik ‘n misdaad gepleeg het. Volgens mnr Jacques Meiring, hoof-operasionele bestuurder van Bossies, het inwoners van Nelspruit sowat twee weke terug ‘n hawelose man ingeneem en hom in ‘n karavaan op die erf laat bly. Hy is ook ‘n sleutel vir die huis gegee sodat hy kon stort.
Toe die eienaars vir ‘n naweek weggaan en terugkeer,was die plek omtrent leeggedra. Hulle het uitgevind dat die meeste van die goedere aan nabygeleë pandjieswinkels verkwansel is. Die saak is by die polisie gerapporteer, maar toe daar na twee maande nog geen reaksei van hulle was nie, het die inwoners besluit om Bossies se hulp in te roep.
Die verdagte is uiteindelik op 8 Oktober op die hoek van Piet Retief-straat en die R40 vasgetrek, waar hy besig was om te bedel. Daar is dagga in sy besit gevind en hy is op grond daarvan gearresteer.
Op 9 Oktober is ‘n gesteelde voertuig na 18 jaar gevind. Bossies en Hi-Tech het ‘n wenk aangaande ‘n blou VW Golf ontvang wat vermoedelik gesteel is en het ses verdagtes vasgetrek. Vier was in die voertuig en twee het te voet probeer vlug nadat hulle gesien het dat hul makkers in die moeilikheid was.
Die polisie het die ander twee van die toneel verwyder. Daar is bevind dat die voertuig al in 1995 in Marble Hall as gesteel aangemeld is.
Inligting oor Bossies Community Justice:
Dit is ‘n Artikel 21, nie-winsgewende maatskappy, wat hoofsaaklik in Nelspruit werk. Hulle poog om in die gemeenskap ‘n hulplyn vir slagoffers van misdaad te wees.
Die operasionele beamptes is enige tyd van die dag en nag beskikbaar en dien as ondersteuning vir die polisie. Die doel is om die tydperk tussen ‘n oproep om die polisie in kennis te stel totdat hulle op die toneel opdaag so kort as moontlik te maak.
Bossies beveel egter die gemeenskap aan om steeds dadelik die polisie se 10111-nommer te skakel wanneer ‘n misdaad plaasvind.
Die maatskappy werk baie nou saam met die verskeie sekuriteitsmaatskappye soos Hi-Tech en J&M en wil hulle graag bedank vir die vinnige reaksie en ondersteuning.
Alhoewel Bossies hoofsaaklik in Nelspruit bedrywig is, help hulle in die omliggende gebiede om reaksietyd met die polisie te koördineer.
Benewens hul strewe om die gemeenskap te beveilig, gaan beamptes ook na kleuterskole om kinders, en so ook hul gesinne, meer sekuriteitsbewus te maak.
Hulle wil graag die gemeenskap vra om by die organisasie betrokke te raak, sodat hulle ‘n meer doeltreffende diens kan lewer. Die fondse wat hulle verkry, word gebruik om die salarisse van voltydse operasionele beamptes te betaal en bronne en operasionele kostes te dek. Direksielede het geen finansiële baat daarby nie. Hulle doen dit vir die liefde van die saak.
Enige persone wat ‘n bydrae wil maak, kan dit inbetaal by: Bossies Justice, FNB tjek, rekeningnommer: 62255037626, takkode: 250016.
Navrae: besoek hul Facebook-blad, Bossies Justice en sleutel dadelik hul noodnommer, 082-567-5212 op jou selfoon in.
