Local newsNewsNews

Sabie skudding laat koppe krap

Geen amptelike verduideliking kon vir die oorsaak van 'n aardskudding verkry word nie.

SABIE – ‘n Raaisel rondom die gebeure verlede Saterdag in die bergdorpie het ontstaan, nadat geen amptelike verduideliking vir die oorsaak van ‘n aardskudding verkry kon word nie. Inwoners het omstreeks 17:20 ‘n allemintige dreuning gehoor wat gevolg is deur ‘n aardskudding.

Me. Louisa van Niekerk beskryf dit as “‘n helse slag” waarna haar huis se vloer en dak geskud het.

‘n Inwoner van Ceylon aan die noord-westelike kant van die dorp, me. Christine van Wyk, het die dreuning ook meerendeels in haar sinkdak ervaar. “Man, dit was amper soos swaar, swaar donderweer, maar daar was nie ‘n wolkie in die lug nie,” vertel sy.

Aan die ander kant van die dorp was mnr. Ben van Jaarsveld besig om vir sy skofwerk reg te maak, toe hy, wat hy ‘n “soort van ‘n skokgolf” noem gevoel het. ” En toe ruk alles om my,” volgens hom. “My eerste gedagte was dat dit ‘n bom is,” erken Van Wyk, en Van Jaarsveld meld ook dat hy aanvanklik gedink het dit is óf ‘n groot ongeluk óf ‘n ontploffing.

Talle inwoners het via sosiale media soos Facebook en Twitter genoem dat dit heel moontlik ‘n aardskudding was wat deur mynaktiwitieite by die Rietfontein-myn veroorsaak is. Die myn-eienaars, Stonewall Mining, het egter aan Laevelder bevestig dat daar geen skietwerk op hierdie stadium by die myn plaasvind nie.

So ook het die Raad vir Geowetenskap se mnr. Martin Brandt bevestig dat die nasionale aardskudding-netwerk geen seismologiese aktiwiteit oor hierdie tydperk in hierdie gebied gemeet het nie. “Dit kan wees dat dit te klein was vir die toerusting om op te tel,” het hy verduidelik. Die raad het ook ‘n digte netwerk van meetinstrumente by goud- en platinummyne regoor die land, en wag vir data om te bepaal of die skudding by ‘n myn in die omgewing plaasgevind het. Hierdie was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

Die moontlikheid dat daar onwettige myn-aktiwitieite in die omgewing plaasgevind het word nie uitgeskakel nie. Die provinsiale rampbestuur is ook nie van enige insidente in die gebied verwittig nie.

Lees wat skryf inwoners oor die ervaring hieronder. Vir die meeste is dit ‘n kopkrapper, maar vir ander is die antwoord eenvoudig, soos Hennie Meiring se verduideliking: “Dis maar net die Blou Bulle wat hard aarde toe gekom het, was seker veral kwaai in Pretoria!”

Verona Beukes: Terrible, sou na my ma geroep het. Die natuur is heeltemaal deurmekaar, drie seisoene in twee dae.

Lindie Du Plessis: Ons huis en buitekamers se dakke is afgeruk, plase in ons omgewing in Ga-Nala het deurgeloop, veral Secunda!

Susan van Zyl: Wat was dit? Bomme? Of ‘n aardbewing? Goeiste, dit was scary!

Bernice van Jaarsveld: Het my gat koud geskrik. Het iemand meer inligting?

Carolien Barnard: Ek het dit ook gevoel en gehoor. Dit was erg, dog ‘n groot boom val op my huis! Ek wonder ook of dit die myn is, want ‘n aardbewing sal seker nie so ‘n groot slag veroorsaak het nie, dit was hard jong.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button