Man veg om sy lewe tydens aanval
“Vandag gaan ek nie dood nie.” Dit was een van die verbete gedagtes wat deur ‘n plaaslike sakeman se kop geflits het toe onbekende mans hom glo by sy saagmeule op die Plastonpad oorval en begin aanrand het. Mnr. Peet Groenewald is pimpel en pers geslaan en ook met ‘n skerp voorwerp in die nek gesteek.

WITRIVIER – “Vandag gaan ek nie dood nie.” Dit was een van die verbete gedagtes wat deur ‘n plaaslike sakeman se kop geflits het toe onbekende mans hom glo by sy saagmeule op die Plastonpad oorval en begin aanrand het. Mnr. Peet Groenewald is pimpel en pers geslaan en ook met ‘n skerp voorwerp in die nek gesteek. Die voorval het ongeveer 08:00 Donderdagoggend plaasgevind. Dit kom skaars dae na die moord van mnr. Paul Mason, wat ‘n plantasie-eienaar was en gereeld ook hout na Groenewald gestuur het.
Teen druktyd kon nog nie bevestig word hoeveel verdagtes op die toneel was nie. Daar is oorspronklik gedink vier mans was betrokke by die aanval maar daar word nou vermoed dat daar net twee aanvallers was.
Groenewald het desperaat terugbaklei en kon daarin slaag om glo een van die verdagtes se arm te breek of ten minste ernstig te beseer. Toe die aanranders besef dat Groenewald nie sonder ‘n groot baklei gaan oorgee nie, het hulle glo gevlug.
Die slagoffer kon egter daarin slaag om een van die verdagtes te oorrompel en vas te hou terwyl hy ‘n noop-oproep gemaak het. “Ons het net na 08:00 ‘n telefoonoproep ontvang vanaf iemand wat skree dat hy aangerand word,” het mnr. Rudi van Niekerk van Hi-Tech Sekuriteit Witrivier/Hazyview bevestig.
‘n Reaksievoertuig is na die toneel uitgestuur en die verdagte in hegtenis geneem en na die Witrivier polisiestasie geneem.
Groenewald is intussen na die hospitaal geneem vir behandeling.
Met Hi-Tech se aankoms by die polisiestasie het hulle glo gesukkel om ‘n saak te open. “Ons moes eers baie lank wag om gehelp te word, en toe wou die lede aan diens ons nie help om ‘n saak te open nie,” het ‘n bron aan Laevelder genoem.
Die polisielede aan diens het glo gedreig om die verdagte te laat gaan. Groenewald is geskakel en moes eers polisiestasie toe gaan voor ‘n saak uiteindelik geopen kon word. Hy is daarna terug hospitaal toe.
Teen druktyd kon lt. kol. Leonard Hlathi bereik word vir kommentaar nie.
