CrimeNewsUpdate

Skêrsaak tot volgende jaar uitgestel

Mnr. Francois Steynberg staan tereg op klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord.

NELSPRUIT – Die beskuldigde in die berugte skêrsaak, soos dit in die media bekendgeword het, sal eers weer in Januarie 2014 in die hof verskyn, meer as vyf jaar na hy glo ‘n kind probeer keel-af sny het.

Mnr. Francois Steynberg is daarvan aangekla dat hy ‘n sewejarige kind na bewering seksueel gemolesteer en daarna glo wreed aangerand en keel-af probeer sny het met ‘n skêr. Hy word ook daarvan aangekla dat hy sy skoonsuster, me. Magda Steynberg met ‘n skêr in die bors gesteek het dieselfde aand van die beweerde voorval.

Hy is in November 2012 ontslaan op een van die drie klagtes, die een van verkragting.

Steynberg moes Maandag weer in die plaaslike hof verskyn op die twee oorblywende klagtes, aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord. Die verdediging en die staat was gereed om aan te gaan met die saak maar die landdros was glo siek en die saak is uitgestel na 16 Januarie volgende jaar.

Steynberg is op 6 Desember 2008 in sy broer se huis in hegtenis geneem waar die voorval glo plaasgevind het. Die slagoffer – skaars sewe jaar oud – is amper vermoor. Sy en haar ouer sussie, toe 10, het ten tye van die voorval by ‘n maatjie geslaap. Daar word beweer dat Steynberg dié aand die kind uit haar bed gaan haal en na sy kamer geneem het. Hy het op daardie stadium by sy broer en skoonsuster gebly.

Steynberg word daarvan aangekla dat hy die tenger sewejarige wreed aangerand het waarna haar keel met ‘n skêr oopgekloof is. ‘n Noodoperasie het haar lewe gered. Volgens ooggetuies was die kind se wond so diep, dat haar tragea sigbaar was.

Steynberg het onskuldig gepleit op al die klagtes teen hom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button