News

Graskop-oord moontlik weer ‘n ligpunt in dorp

Opknappingwerk aan die Graskop Resort & Caravan Park kan moontlik in Januarie begin.

GRASKOP – Daar is hoop vir die eens gewilde vakansieoord op die dorp, die Graskop Resort & Caravan Park, wat deesdae in ‘n skokkende toestand van verval verkeer.

Die ekonomiese ontwikkelings-agentskap vir die Thaba Chweu Munisipalitieit (TCM), Thaleda, het verlede week aangekondig dat ‘n voorrang-bieër geïdentifiseer is om die oord vir ‘n tydperk van 15 jaar te ontwikkel en bedryf. Belangstellendes moes hul voorleggings teen 19 Julie by Thaleda indien.

Volgens me. Sindiswa Mathebula van Thaleda, sal die suksesvolle operateur onmiddelik na die beklinking van die ooreenkoms die chalets, swembad- en ablusiefasiltieite opknap. Verder moet beter sekuriteitsmaatreëls, bemarkingspogramme en administrasiestelsels geïmplimenteer word.

Die operateur het die keuse om die bestaande bates oor te neem of te vervang. Alle uitgawes vir opgradering, instandhouding, die bemarking asook bedryfskostes sal die verantwoordelikheid van die operateur wees.

Vyf aanbiedinge is ten opsigte van hierdie projek ingedien. Die suksesvolle kandidaat, waarvan die naam nog nie bekend gemaak is nie, is volgens Mathebula ‘n plaaslike konsortium met “uitgebreide ervaring in die gasvryheidsbedryf”.

Thaleda voorsien dat opgradering reeds in Januarie ‘n aanvang sal neem, indien die onderhandelinge tussen die liggaam en die bieër suksesvol verloop.

Mathebula hoop dat die oord reeds vir die 2014 Paasvakansie met die nuwe en opgeknapte fasiliteite sal spog.

‘n Vasgestelde maandelikse fooi sal aan Thaleda betaal word. Indien dit laer as ‘n voorafbepaalde persentasie van die bedryfsomset is, sal die verskil ook aan Thaleda betaalbaar wees. Geen betaling sal vereis word indien die oord nie gelykbreek nie.

Mathebula het aangedui dat die fooie deur Thaleda gebruik sal word om moniteringskostes te dek. “Die idee is dat die operateur in die infrastruktuur moet belê en, sodra die omset verhoog, die munisipaliteit in die voorspoed sal deel,” volgens haar.

TCM besit hierdie bate en het ‘n wesentlike belang daarby dat hierdie oord opgeknap en op ‘n winsgewende basis bedryf word, aldus Mathebula.

Die naam van die gekose konsortium sal binne die volgende maand bekend gemaak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button