Rooftog by winkel soos greep uit ‘n film
Die rowers het baie gejaagd voorgekom, asof hulle teen tyd gewerk het, vertel 'n slagoffer.

NELSPRUIT – Binne 15 minute was alles verby en was werknemers van ChemSpec
Paint hulle kontant, juwele, selfone en sielsvrede kwyt.
Dinsdag omstreeks 16:15, net voor toemaaktyd, het vier mans by die winkel ingeloop en gevra of dit te laat was om verf te bestel. Die werknemer by die toonbank het bevestig dat dit te laat was en die volgende oomblik in die loop van ‘n pistool vasgekyk. Dit is teen sy kollega se kop gedruk en albei is na die agterste kantore gedwing.
Daarna is twee boewe na elk van die twee kantore en al die personeellede is in een kantoor ingeforseer. Die gebou se sleutels is afgevat waarna hulle die winkel begin deursoek het. Een van die rowers het ‘n tweerigtingradio gehad, waarmee hy vermoedelik met sy makkers gekommunikeer het.
Die mans was soos gewone klante aangetrek, maar het groot sonhoede, wat hulle soos toeriste laat lyk het, gedra. Een was egter in ‘n oorpak geklee. Volgens die slagoffers was hy ook meer aggressief as die ander.
Terwyl hierdie drama hom afgespeel het, was vier ander werknemers in die kleedkamers besig om hul werksklere uit te trek. Een, ‘n jarelange werknemer, het die kamer verlaat, onraad bemerk en weer teruggegaan. Hy het sy kollegas gewaarsku om nie uit te gaan nie en het probeer om die sekuriteitsmaatskappy te verwittig.
Nadat die mans deur die gebou se kaste en laaie gekrap het, is die personeel beveel om op die vloer te lê en is al hulle juwele, selfone, beursies en kontant gebuit. Daar was baie min kontant in die winkel, aangesien die meeste klante rekenings het en die skurke was ongelukkig hieroor.
Geen rekenaars of handsakke is gesteel nie. Een van die vroue vertel dat haar handsak by haar tafel was, maar dat hulle nie daaraan geraak het nie. Hulle het ook vir die sleutels van ‘n spesifieke voertuig in die parkeerterrein gevra, maar dit nooit gaan haal nie. ‘n Ander voertuig se sleutels is afgevat, maar dié staan steeds in die parkeerterrein.
Van die manspersoneel is geskop en daar is op hulle hande getrap. “Dit het gevoel soos ‘n toneel uit ‘n film, net veel erger,” sê een van die mans. ‘n Vrou het vertel dat sy eers nie heeltemal besef het wat aangaan nie. “Toe ek die mense sien platval het ek dit maar net ook gedoen.”
Twee klante was ook slagoffers. Een van hulle, ‘n buitelander, het dit gewaag om vir sy beursie terug te vra, omdat sy paspoort daarin was. Die skurke het toe slegs die kontant uitgehaal en sy beursie aan hom teruggegee.
Die rowers het baie gejaagd voorgekom, asof hulle teen tyd gewerk het, vertel ‘n slagoffer. Teen 16:30 het een van hulle gesê dat dit tyd was om te gaan. Nadat die mans gevlug het, het Chubb Electronic Security opgedaag met die polisie kort op hulle hakke. ‘n Wag is ook op die perseel geplaas om die winkel te beveilig, aangesien die rowers die sleutels gesteel het.
Die slagoffers vertel dat dit die laaste ding was wat hulle daardie tyd van die dag te wagte was. Hulle benadruk dat die hele groep saamgewerk het en die boewe se bevele gehoorsaam het. “Die bestuurder het ook saamgeloop terwyl hulle die sleutels gesoek het. Hy het hulle kalm gehou.”
Die slagoffers wil op grond van hulle nagmerrie-ervaring die volgende raad bied:
• Verander jou roetine gereeld
• Sorg dat kontant nie sigbaar (op die toonbank) hanteer word nie
• Gee jou samewerking indien daar ‘n rooftog plaasvind
• Maak seker dat daar sekuriteitstelsels is
• Wees ekstra versigtig wanneer die winkel toe- en oopgesluit word.
ChemSpec Paint was Woensdag gesluit omdat die werknemers verklarings moes aflê en hulle nog baie getraumatiseerd was.
Die Nelspruit SAPS ondersoek tans ‘n saak van gewapende roof.
