CrimeNews

Wicus Coetzee kry opgeskorte vonnis vir onwettige vuurwapens

Coetzee het uiteindelik 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy het dit aan Laevelder getoon wat duidelik uiteensit hoe presies hierdie wapens in sy besit beland het

NELSPRUIT – “Oorstelp van vreugde.” Dit is hoe mnr. Wicus Coetzee (53) sy gevoelens beskryf het nadat hy hierdie week in die Nelspruitse Streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê is nadat ‘n klomp onwettige vuurwapens en ammunisie in 2011 in sy besit gekry is.

Dit het ‘n nagmerrie van twee jaar tot ‘n einde laat kom. Hy is op 11 November daardie jaar op sy plaas by Sudwala gearresteer nadat die polisie op onder andere ‘n onwettige AK47-aanvalsgeweer; plofstowwe wat hand- en rookgranate insluit; ‘n .38-rewolwer en .303-jaggeweer en ammunisie beslag gelê het.

Coetzee het uiteindelik ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy het dit aan Laevelder getoon wat duidelik uiteensit hoe presies hierdie wapens in sy besit beland het. Hy was gedurende die 1980’s ‘n inligtingsoffisier in die lugmag en op Polokwane gestasioneer. Hy is in 1986 deur maj. Koenraad Vlietstra genader en gevra om ‘n trommel met die vuurwapens, plofstof en ammunisie, te stoor. Dit sou later vir ‘n militêre operasie in Botswana gebruik word. Dié operasie is egter tydelik afgelas en Vlietstra sou later die trommel by Coetzee kom haal.

Laasgenoemde is later na Nelspruit verplaas en hy het die trommel op sy plaas begrawe. Hy het nooit weer iets van Vlietstra gehoor nie en het later verneem dat hy in Irak gaan werk het waar hy dood is. Die trommel was lank begrawe en van die inhoud het al begin roes. Sy vrou het die polisie van die trommel vertel en kol. Gerrie Agenbag, Nelspruitse speurhoof en ander polisiebeamptes, is na die plaas.
Coetzee het die trommel daardie oggend laat opgrawe omdat hy van die wapens ontslae wou raak deur dit in ‘n rivier te gooi. Agenbag en sy span het egter toegeslaan en Coetzee is gearresteer omdat hy nie lisensies vir die wapens of ammunisie kon toon nie. Hy sou sewe dae in aanhouding deurbring voordat hy op borg van R10 000 vrygelaat is.

Coetzee het uiteindelik skuldig gepleit op vier aanklagtes teen hom:

• Onwettige besit van ‘n verbode wapen (AK47): Hiervoor is hy 10 jaar gevangenisstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is. Hy moet ook 100 uur se gemeenskapsdiens by Nelspruit Gemeenskapsforum verrig. Hy moet dit voor of op 18 November daarmee begin en dit binne drie maande voltooi.

• Onwettige besit van plofstof: Hiervoor is hy met R20 000 beboet of hy moet een jaar tronkstraf uitdien wat vir vyf jaar opgeskort is.

• Onwettige besit van vuurwapens: Hy moet ‘n boete van R100 000 betaal of vyf jaar tronk toe gaan wat vir vyf jaar opgeskort is.

• Onwettige besit van ammunisie: ‘n Boete van R100 000 of vyf jaar gevangenisstraf, vir vyf jaar opgeskort.

Coetzee is onbevoeg verklaar om ooit weer ‘n vuurwapen te besit. Hy is egter min gepla met sy vonnis. “Ek is nie ‘n krimineel nie en ek is nie ‘n militante regsgesinde nie, so ek sal nie weer aan só ‘n misdryf skuldig bevind word nie,” het hy verduidelik. “Ek glo wel dat ons die reg het om onsself te regeer, maar was nog nooit ‘n lid van die AWB of Boeremag nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button