
NELSPRUIT – Ene Fana van Johannesburg is sy dagga kwyt nadat die SAPD ‘n besending van hierdie onwettige middel Saterdagoggend gekonfiskeer het.
‘n Quantum minibus, vol gepak met 174kg se dagga is gevind nadat ‘n plaaslike SAPD-lid inligting oor die besending opgevolg het. Ongeveer twintig pakkies van verskillende groottes, so ewe met naamplakkertjies op, is gevind.
Volgens konstabel Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, was die besending onderweg vanaf Malelane na Johannesburg toe die voertuig en die besending onderskep is. Twee mans is gearresteer. Beide was in besit van Suid Afrikaanse bestuurslisensies, maar een man het ‘n paspoort van Zimbabwe aan hom gehad.
Die markwaarde van die dagga is ongeveer R609 000.
Hierdie is die tweede groot dwelmvonds vir die SAPD hierdie week. Heroine met ‘n markwaarde van tussen R250 000 en R400 000 is Maandagoggend in ‘n Quantam minibus gevind.
Konstabels Chicco Nkosi, Difference Nxumalo, sersant Michael Horn, konstabels Riaan Minnie en Tshepo Malatjie met die daggavonds.
Nkosi, Nxumalo, en Maltaji is lede van die blitspatrollie wat vir Minnie bygestaan het in die arrestasie.

