NELSPRUIT – Lede van die polisie se blitspatrollie het vroeg Woensdagoggend vier verdagtes gearresteer kort nadat hulle twee beeste met pangas doodgekap het. Hulle was onderweg na Pienaar met die stukke vleis toe hulle aangekeer is.
Die polisie is bygestaan deur lede van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit asook Phoenix Sekuriteit. Hulle het omstreeks 01:00 ‘n verdagte Volkswagen Polo op die R40 onderweg na Barberton afgetrek en deursoek. ‘n Bakkie het verby gery en die wakker beamptes het opgemerk dat daar mans agter op ‘n groot vrag sit.
Hulle het die bakkie agterna gesit en by Hilltop vir die bestuurder beduie om stil te hou. Hulle kon dadelik iets sleg ruik en het die mans agterop aangesê om af te klim. Hulle het die seil gelig en op die opgekapte karkasse van twee beeste afgekom.
Die verdagtes het glo aan die polisie gesê dat hulle die beeste by Kwezi naby Badplaas gesteel het en op pad was na Pienaar. Hulle was nie gewapen nie en het na bewering bygevoeg dat hulle die diere met pangas doodgekap het.
Die mans en die vleis is na die polisiestasie geneem. Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruit se polisiewoordvoerder, het gesê dat die saak deur die veediefstaleenheid op Tonga ondersoek word. Sers. Gerald Sidebe, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dat die verdagtes gister in die landdroshof op Carolina sou verskyn.
