
WITRIVIER – Een van die verdagtes wat verlede maand aangekeer is na die wrede moord op mnr. Gert de Beer op die plaas Spioenkop, is Vrydag in die plaaslike landdroshof van alle aanklagtes vrygespreek.
Dit volg nadat mnr. Welcome Bulunga na bewering 'n bekentenis afgelê het waarin hy aangedui dat sy medebeskuldigde,
mnr. Nhlanhla Shabango, nie by die voorval betrokke was nie. Volgens 'n ingeligte bron het Bulunga wel aanvanklik die polisie na Shabango gelei. Hy het egter later sy storie verander en gesê dat Shabango nie aandeel in die aanval op De Beer en sy vrou, Lina, gehad het nie. Vuurwapens wat tydens die aanval gebuit is, is glo ook in Bulunga se besit gevind. Hy moet weer môre (Woensdag) in die hof vir 'n borgaansoek verskyn en bly dus in aanhouding.
