Hard newsNewsNews

Maggiesdal saga duur voort

Die inwoners van Maggiesdal wat die komende naweek uit hul huis moes trek, het glo toestemming gekry om aan te bly.

NELSPRUIT – Die inwoners van Maggiesdal wat deur Mbombela Munisipaliteit tot Saterdag gegee is om uit die huis waarin hulle woon te trek, het glo toestemming gekry om aan te bly.

Volgens me. Jossie Maree, wat saam met haar skoonseun, mnr. Pieter Kruger en sy gesin in die huis woon, moes Kruger ‘n brief teken om die munisipaliteit van enige verantwoordelikheid te vrywaar, sou die huis inmekaarstort.

Nelspruit Post het in Augustus berig dat die munisipaliteit gevind het dit was onbewoonbaar en die inwoners tot 9 November gegee het om ‘n ander heenkome te vind. Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder van die munisipaliteit, het toe bevestig dat die woning nie geskik vir gebruik is nie.

“Daar is baie ernstige strukturele foute aan die mure en die vloer en dit is nie geskik vir menslike bewoning nie,” het hy gesê. “Die bestuur is ongelukkig met dié probleme aan die huis wat die lewe van die inwoners bedreig. Die pakhuis wat aan die huis is, is besig om te sink en drukking op die struktuur uit te oefen.”

Volgens Maree, kan hulle nou aanbly. Hulle voer ook aan dat hulle, as deel van die nuwe ooreenkoms, nie meer huur hoef te betaal nie, maar nog hul elektrisiteitsrekening moet vereffen.

Kruger het Saterdag gesê dat hy gereël het om die elektrisiteit die vorige dag te betaal. Toe hy egter laat die aand na sy opleiding in Springs by die huis aankom, was die krag glo reeds afgesny. Hy het aangevoer dat die opsigter, mnr. Martiens Roberts, geweier het om die R2 000 te aanvaar om die elektrisiteit weer aan te sit.

Nadat hul baba glo sy kop in die donker oopgeval het, het hulle by Nelspruit Lodge oornag. Die volgende oggend het hy ‘n kragopwekker by Game gekoop. Die strokies vir dié uitgawes, wat Nelspruit Post gesien het, dui aan dat hy R580 vir die akkommodasie en R1 100 in kontant vir die kragopwekker betaal het.

“As die kinders nie die geld gehad het nie, sou ek sê ‘fair enough’,” het Maree gesê. “Maar hulle hét en wou betaal maar sit nou weer sonder elektrisisteit.”

Roberts het by navraag gesê hy voer net Mbombela se opdragte uit. “Ek het niks met daardie mense te doen nie. Dis maar weer die ou storie – hulle betaal nie hul huur nie want hulle is skelm. Dis al wat ek te sê het.”

Lees die vorige berigte hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button