Swemmers baljaar na strawwe kompetisie
Die kompetisie, wat oor twee weke gestrek het, is deur Mpumalanga gewen.

BARBERTON – BARBERTON – Drie swemmers van Hoërskool Barberton het die naweek van 19 Oktober aan die tweede been van die Lebombo Tri-Nations-swemkompetisie in Mosambiek deelgeneem.
Die gala is by die Zempeto-stadion, ‘n moderne fasiliteit in Maputo wat spesiaal vir die 2010 Afrika-spele gebou is, gehou.
Die kompetisie, wat oor twee weke gestrek het, is deur Mpumalanga gewen en die uitslae van die BHS-swemmers was
soos volg:
Jessica Macaulay (dogters 15 jaar) het aan ses items deelgeneem en swem ‘n persoonlike beste in die 100m borsslag.
Jillian Clark (dogters 15 jaar) het drie derde plekke verower. Dit was in die 50m- en 100m vryslag en die dogters 15- en 16-jaar vryslag-aflos. Sy het ook drie vierde plekke – in die 50m- en 100m-rugslag, en die 50m-vlinderslag – losgeslaan. Liza-Mari Drummond (dogters 14 jaar) het twee eerste plekke, in die 50m-vlinderslag en die 50m-vryslag, vier tweede plekke in die 100m-vlinderslag, 100m-vryslag, 50m-borsslag en die 50m-rugslag. gekry. In die dogters 15 en 16 jaar vryslag-aflos het sy ‘n derde plek behaal.
Verlede week was die drie in ‘n besonderse vrolike luim en het aan Barberton Times gewys hoe vinnig hulle op mekaar se senuwees kan werk wanneer ruimte beperk is. Hier is die drie tydens ‘n fotosessie by die eiland van die skool wat toe nie heeltemal uitgewerk het soos ons dit graag wou gehad het nie.
Binne minute nadat hulle voete die skuimerige water geraak het, was alles verlore en is daar goedelik geveg om te kyk wie die meeste skuimspoke kan optower.
