Mbombela man herstel goed ná R40-ongeluk
Leendert herstel tans in 'n gewone hospitaalkamer nadat hy uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is.
Leendert de Bruin (44), ‘n bekende inwoner, is stadig maar seker besig om te herstel ná sy ernstige ongeluk op die R40.
LEES OOK: Kommer ná ernstige ongeluk op R40 in Mbombela
Sy pa, Gerhard, het aan Laevelder bevestig dat sy seun van die intensiewesorgeenheid na ‘n gewone hospitaalkamer verskuif is en goed herstel.
“Hy beweeg nog moeilik, en dokters sal hom eers kan opereer wanneer hy sterk genoeg is om te bepaal wat alles fout is,” verduidelik hy.

Leendert was op 12 September vanaf Steiltes na die gimnasium onderweg toe ‘n Volkswagen Polo, wat in die rigting van Barberton gereis het, glo teen ‘n hoë spoed met sy Volkswagen Kewer gebots het.
Volgens inligting tot Laevelder se beskikking het die ongeluk gevolg nadat die Polo glo nie by ‘n rooi verkeerslig gestop het nie. Die impak was so groot dat Leendert uit sy voertuig geslinger is en etlike meter verder in die pad te lande gekom het.
Die drie insittendes van die Polo, twee mans en ‘n vrou, was volgens ooggetuies in die voertuig vasgekeer. Reddingskake moes glo gebruik word om hulle te bevry. Die beseerdes is na die Nelspruit Mediclinic en Rob Ferreira-hospitaal geneem.

Die ongeluk het tot kommer oor roekelose bestuur in die stad gelei. Daar is ook bewerings gemaak dat van die Polo se insittendes onder die invloed van alkohol was. Beeldmateriaal wat aan Laevelder verskaf is, wys verskeie drankbottels op die ongelukstoneel. Ooggetuies het ook beweer dat een van die Polo se insittendes, wie se identiteit nie aan Laevelder bekend is nie, gestruikel het.
Talle Laevelders het op sosiale media hul kommer oor roekelose bestuur uitgespreek en ‘n beroep op die owerhede gedoen om die paaie te beveilig en te patrolleer.
LEES OOK: Gru-ongeluk eis pa en seun se lewens in Witrivier
Die SAPD het aanvanklik aan Laevelder bevestig dat geen saak geopen is nie, hoewel Leendert se familie bevestig het dat ‘n saak wel aanhangig gemaak is.
Teen druktyd is die SAPD se kommentaar oor die ondersoek, asook of enige bloedtoetse gedoen is, nog nie ontvang nie.