CrimeNewsUpdate

Vermeende renosterstropers weer voor hof

Daar was vier renosterhorings in die rugsak en die verdagtes het glo die toneel uitgewys waar hulle twee renosters vroeër dié dag afgemaai het

SKUKUZA – Drie vermeende renosterstropers het weer Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hulle na bewering op 25 September in die Stolsnek-omgewing met vier renosterhorings betrap is.

Mnre. Patrick Nghuwane, Promise Mahumane en Sitembisu Nghuwane is dié dag deur veldwagters opgemerk. Laasgenoemde kon sien dat die mans ‘n jaggeweer en ‘n rugsak by hulle gehad het. Die veldwagters het vir bystand gevra en SANParke se helikopter het ook kom help met die soektog vanuit die lug. Die mans het gesien hulle word gejaag en het die geweer en rugsak neergegooi en weghardloop. Hulle het in ‘n klipskeur weggekruip, maar is daar vasgetrek.

Daar was vier renosterhorings in die rugsak en die verdagtes het glo die toneel uitgewys waar hulle twee renosters vroeër dié dag afgemaai het – sowat ses kilometer vanwaar hulle gearresteer is. Die horings het glo perfek op die karkasse gepas. Die vuurwapen wat in hulle besit gevind is, was ‘n .375-Winchester.

‘n Lasbrief is vroeër vir Mahumane se arrestasie vir ‘n beweerde geweldsmisdaad wat hy in Calcutta gepleeg het, uitgereik. Sedert sy arres in die wildtuin, is hy ook met ‘n besigheidsroof in die Hazyview-omgewing verbind nadat hy glo positief tydens ‘n uitkenningsparade uitgewys is. Die verdagtes het onlangs ‘n borgaansoek voor die hof op Witrivier gebring en Mahumane het beweer dat hy deur die wildtuin gestap het om by TSB te gaan werk soek. Die Nghuwane-broers het gesê hulle het gaan visvang, hoewel hulle geen visstokke by hulle gehad het nie. Hulle is gevolglik borg geweier.

Hulle word op verskeie klagtes aangekla en die saak teen hulle is tot 6 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button