Vrou en seun deur rowers geteiken
Marica het onmiddellik onraad vermoed en vir haar seun geskree om dadelik sy oupa te skakel, wat 'n paar huise van hulle af op die plaas bly. Voor hy egter by sy slaapkamer kon uitkom om die selfoon te kry, het twee mans uit sy kamer met die gang afgestap gekom.
BARBERTON – Marica Marais woon op die New Hope Ministries-plaas net buite Barberton. Sondag omstreeks 00:30 het sy opgestaan om badkamer toe te gaan. Haar 15-jarige seun het die vorige aand op die bank voor die televisie aan die slaap geraak. ‘n Rukkie later het hul twee honde, wat in die huis was, skielik oorverdowend begin blaf en sy het ondersoek gaan instel.
“Ek het my agterdeur, wat ‘n traliehek buite het, oopgemaak om te kyk of ek iets gewaar,” het sy Maandagoggend vertel.
“Ek hou ‘n mandjie met allerlei goed in my kar en toe ek buitentoe kyk, sien ek dat dit op die gras lê met die inhoud orals rondgestrooi.”
Marica het onmiddellik onraad vermoed en vir haar seun geskree om dadelik sy oupa te skakel, wat ‘n paar huise van hulle af op die plaas bly. Voor hy egter by sy slaapkamer kon uitkom om die selfoon te kry, het twee mans uit sy kamer met die gang afgestap gekom. Dit wou voorkom asof die rowers toegang tot die huis verkry het deur ‘n venster in die seun se slaapkamer te breek. Ma en seun is beveel om in hul onderskeie kamers op hul beddens te gaan lê. Intussen het ‘n derde verdagte by die twee ander mans aangesluit.
Terwyl die skelms alles wat waardevol is, bymekaargemaak het, het Marica probeer om haar selfoon onder haar kopkussing in te druk. Die man wat by haar in die kamer was, en wat sy as baie aggressief beskryf, was op daardie oomblik besig om die klerekas te deursoek. Hy het gesien wat sy besig was om te doen en het haar met die vuis op haar linkeroog geslaan.
“Ek het nie gedink hy sien my nie en gehoop ek kan so hulp ontbied,” het sy vertel en vervolg, “Ek praat Zoeloe vlot, en het met hulle probeer kommunikeer, maar nie een van die mans kon my verstaan nie. Hulle is ook nie Swazi magtig nie en ek ken glad nie hul taal nie. Hulle het met ons in gebroke Engels gekommunikeer. Sy vertel dat die aggressiewe boef ‘n rooi T-hemp en ‘n kakiebaadjie aangehad het.
Een van die ander mans, die jonger een, het ‘n baie swart vel gehad, en het ‘n swart T-hemp en ‘n blou baadjie aangehad. Al wat sy van die derde man se kleredrag kan onthou, was sy Billabong-pet en dat hy ‘n skroewedraaier by hom gehad het.
“Nadat hulle hul buit in my motor gelaai het, was hulle baie haastig en het die sleutels gevra. Ek het gevra of hulle nie net die ander sleutels kon afhaal nie, wat die een met die donker vel toe gedoen het. Hy het ook gesê: ‘Don’t worry, I’m not going very far with your car’ en was onder omstandighede heel ordentlik.”
Marica en haar seun is toe in die badkamer toegesluit. Sy kon hoor hoe hulle wegry net om ‘n entjie verder weer te stop. Sy het ‘n deur hoor toeklap en aangeneem dat hulle ‘n ander rower, wat buite was om alarm te maak indien nodig, opgelaai het. Die twee het lank om hulp geroep, maar niemand het hulle gehoor nie.Vroegoggend het hulle weer begin skree.
‘n Werker van ‘n buurplaas met die bynaam Rasta, was op pad na sy huis toe, toe hy hul gille hoor. Hy het gaan ondersoek instel. Marica het die bossie sleutels wat sy by haar gehad het, aan hom deur die venster gegee en hy het vir hulle oopgesluit. Marica het bygevoeg: “Rasta se regte naam is Figile en dit beteken ‘ek het gekom’ – Sondagoggend het hy sy naam gestand gedoen.”
Later die oggend is die Ford Figo in Nelspruit gevind waar dit onder ‘n brug gelaat is.
Haar seun is tans terug by sy skool en koshuis in Lydenburg waar hy nog hierdie week eksamen skryf.
