NELSPRUIT – Die liggaam van ‘n derde man wat binne net twee weke vermoedelik selfdood gepleeg het, is gisteroggend (Donderdag) by die ou reptielpark naby die Laeveld Skouterrein aangetref.
Bossies Community Justice het vroeg die oggend op hulle Facebook-blad genoem dat mnr. Johnny de Jager (58), vermis word en dat enigiemand met inligting die operasionele bestuurder, mnr. Jacques Meiring, moes laat weet.
De Jager is Woensdag nog by Emnotweni Casino opgemerk en het ‘n donkerblou langbroek en ‘n ligte blou hemp aangehad. Die soektog na hom het tot ‘n einde gekom toe sy lyk gisteroggend ontdek is, waar hy aan ‘n boom opgehang was.
Die polisie was teen druktyd op die toneel en besig met ‘n geregtelike ondersoek na sy dood.
• De Jager is die derde man wat binne twee weke klaarblyklik sy eie lewe geneem het. Die eerste was mnr. Pieter Rösner wat op 31 Oktober dood in sy motorhuis in Percy Fitzpatrickstraat aangetref is.
Mnr. Louw Zevenster is Maandag dood nadat hy vermoedelik homself in die Botaniese Tuine geskiet het.
Lees ook hierdie week se hoofartikel oor selfmoord.
