Wrede onnodige aanval en moord op bejaardes van Witrivier
Op Donderdag 10 Oktober het vier mans Mnr. Gerhard de Beer en sy vrou Lina aangeval op hulle plaas Spioenkop net buite Witrivier. Dit het tussen 18:00 en 19:00 gebeur en De Beer, alom bekend as Oom Gert, is dood gevind in die hoof slaapkamer op Vrydag 11 Oktober. Mev De Beer wat erg beseer …
Op Donderdag 10 Oktober het vier mans Mnr. Gerhard de Beer en sy vrou Lina aangeval op hulle plaas Spioenkop net buite Witrivier. Dit het tussen 18:00 en 19:00 gebeur en De Beer, alom bekend as Oom Gert, is dood gevind in die hoof slaapkamer op Vrydag 11 Oktober. Mev De Beer wat erg beseer is, is in ‘n ander slaapkamer aangetref. Hulle was beroof van hulle selfone en 3 gewere.
De Beer se seun Dawie het Vrydag sy ouers probeer in die hand kry en na talle onbeantwoorde oproepe het hy besef iets is fout. Hy het Luis Gorreia, huisvriend en boer in die omgewing gekontak en gevra om ondersoek te gaan instel by sy ouers se huis.
“Toe ek by die plaas net na 16:00 aankom, was die hek gesluit en ek het die hoeter geblaas en die landlyn en Tannie Lina se selfoon gebel maar geen reaksie gekry nie,” sê Gorreia . “Toe ek Oom Gert se selfoon bel het ‘n swart man geantwoord en gevra, wat soek jy?” Gorreia het toe met die gebruik van ‘n leer uit sy voertuig oor die hek geklim. “Ek het Oom Gert eerste gevind waar hy op die bed lê en alreeds gesterf het. Daar was ‘n wond agter op sy kop. Tannie Lina het ek in ‘n ander slaapkamer gevind tesame met hulle hond wat by haar gesit het . Haar hand was erg beseer. Sy was baie deurmekaar.”
Tannie Lina het toe vir Gorreia vertel wat gebeur het. “My man was buite om die pomp af te sit en ek was in die buitekamer . Ek was besig om sy klere vir die volgende dag uit die tuimeldroeier te haal. Toe ek buite kom het ek 2 mans gesien wat met my man loop en hulle was besig om hom te slaan. Die volgende oomblik voel ek ‘n harde hou van agteraf. Later het nog twee mans hulle verskyning gemaak en by die ander twee aangesluit. Ek onthou dat ek gesien het hoe hulle saam met my man by die kluis staan wat hy alreeds oopgemaak het. Die gewere het buite die kluis teen die muur gestaan. Ek onthou hoe my man aanhoudend vir hulle gesê het dat hulle alles kan vat maar gepleit dat hulle hom net nie moet doodmaak nie.”
Gorreia het dadelik die polisie en J& M Sekuriteit gebel en ingelig wat gebeur het. Terwyl hulle gewag het vir bystand het Tannie Lina verder inligting verskaf. “Ek het die laaie toegedruk want die rowers het hulle oopgepluk en deursoek. Ek wil nie hê die plek moet deurmekaar lyk waaneer die mense kom om Oom Gert te help nie.” Dit is duidelik dat sy op hierdie stadium onbewus was dat De Beer alreeds dood was.
Tannie Lina was dadelik deur ER veroer na Medi Clinic in Nelspruit vir behandeling. Dit blyk of Tannie Lina ná, die kriminele weg is haar bewussyn verloor het want sy het op geen stadium deur Donderdag nag of Vrydag om hulp gevra nie. Daar is wel ‘n radio wat direk verbind is met J&M Sekuriteit in die huis en die landlyn het ook nog gewerk.
Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dat hulle eers Vrydag laat middag van die voorval ingelig is.
Jan de Beer wat bekend is vir sy werk in die sekrutiteitsveld is die broerskind van Oom Gert . Jan het ‘n eklusiewe onderhoud gevoer met Die Laevelder oor die insident asook die familie se reaksie op die voorval.
“Ons weet dat oom Gert in Witrivier was die dag van die aanval. Hy het geld getrek en ook na die apteek toe gegaan vir medikasie. My Oom was nie ‘n gesonde mens nie en hy was ‘n tydjie gelede deur ‘n spinnekop gebyt en die wond het nog nie genees nie. Die geld wat hy getrek is nie deur die aanvallers gevat nie en is in sy broeksak gevind. Daar is spesiale forensiese taakspan uitgebring van Pretoria, op Saterdag om die moord toneel deeglik te ondersoek vir verder bewyse,” sê Jan.
“Ons as familie is baie geskok deur die ding! Hoekom moes sulke skadelose, ou mense op so ‘n wrede manier aangeval word? Hoekom moes ons Oom vermoor word? Ons familie is nie die eerste met wie die soort van ding gebeur het nie. Daar is al verskeie uitlatings gemaak deur honderde families regdeur die land oor hulle gevoelens wanneer dit met hulle gebeur het. Maar daardie gevoelens en trauma is eintlik onbesrkyflik ! Ons as familie kry seer en is telerugesteld. Waar is die vryheid in ons land waartoe ons almal op geregtig is? Iewerste moet daar ‘n streep getrek word! Ek self het misdaad bestry deur my werk. Ek onthou duidelik toe ek by die opening was van die nuwe Hazyview polisie stasie waar daar ook ‘n nuwe bevelvoerder aangestel was. Ek het persoonlik sertifikate oorhandig aan die minister van die polisie, die hudige polisie kommissaris, die stasie bevelvoerder en die provinsiale kommissaris. Die sertifikate was simbolies van die gemeenskap se vertroue in en die geloof dat die polisie‘n verskil sou maak aan wat verkeerd is in ons land wat misdaad betref. Wat is daardie sertifikate nou werd? Witrivier is ‘n klipgooi weg van Hazyview. Ons is buurdorpe. In sy totalitiet is daar groot fout met ons land se regstelsel. Wanneer gaan dit ophou? Waar, ek vra, waar is ons vryhied?”
Oom Gert laat sy vrou Lina en 3 kinders, Dawie , Gerhard en Lorraine en ‘n aantal kleinkinders agter. Vir begrafnisreëlings kontak Jan de Beer op 076-019-2127. Die Laevelder spreek sy meegevoel uit aan die familie vir hierdie tragiese verlies.
Enige iemand met inligting word versoek om AO. Koos Olivier op 082-853-3165of 082-449-0334,te skakel
