Boere kla oor skade wat beeste aanrig
Wat staan ‘n boer te doen wanneer sy produkte elke nag opgevreet word en klein plantjies verwoes word deur die beeste
Boere in die Hazyview dorpsgebied sit met hulle hande in hul hare oor die rondloper beeste in die dorp. “Wat staan ‘n boer te doen wanneer sy produkte elke nag opgevreet word en klein plantjies verwoes word deur die beeste,” vra ‘n gefrustreede Mnr. Christo Coetzee, plaasbestuurder Perry’s Farm. Die plaas, geleë net oorkant Perry’s Bridge en langs Kruger Park Lodge, produseer grinadellas en makadamias vir die uitvoer mark.
“Tesame met die probleem kan ons ook nie byhou met die diefstal van ons heinings nie. Onlangs is daar weer 160 meter heining in een gedeelte en ’n 100 meter in ‘n ander gedeelte gesteel. Die tipe diefstal is ‘n gereëlde ding en word moedswillig gedoen sodat die beeste kan deurloop en voeding kry.Die plaas se heienings was op ‘n stadium geelektrifiseer maar teen die tempo waarop heining diefstal plaasvind kan ons nie meer byhou nie om dit te vervang nie. Dan praat ons nog nie eers van die hekke met slotte wat konstant opgebreek word nie. Ons vervang ook nie meer die slotte nie. Ons hou nou die hekke toe met ‘n dun draaitjie sodat daar minder skade kan verrig word, “sê Coetzee.
Daar is wel ongeveer 21 seekoeie wat deur die plaas loop en dan verder na die Sabie rivier, Wikus Kotze en Kobus Koekeomoer se grond toe beweeg. Maar dié, sê Coetzee verrig nie skade aan sy vrugte en neute nie. “Seekoeie eet gras van bo af en rig nie skade soos beeste aanrig nie. Die seekoeie loop dieselfde paaidjies elke keer en dus neem ek en die ander boere dit in ag en los daai paidjies oop vir hulle.”
In kontras hiermee is die beeste se eetgewoonte een wat baie skade aan jong plante en boompies kan verrig. ‘n Bees draai sy tong om plante en vrugte en ruk hulle dan uit die grond uit. Dit is waanneer ‘n boer derduisende rande severlies kan beloop. Dan word die skade aan besproeingssisteem nie eers bygetel nie. Die beeste vertrap die sproeiertjies stukkenden en dit kos ‘n aardige bedraggie om hulle te vervang.
Die beeste behoort aan boere van die trust areas van Hoerskom, Mariete, Mkuhuku en Tshabalala. Daar het beeste al klaar al die gras opgevreet nou word hulle net vrygelaat om rond te loop en te eet waar hulle wil. Hulle word ook nie eens meer met ‘n wagter vergesel nie.
“Ek het al in die verlede met die eienaars van die beeste gaan praat en gevra dat hulle hul beeste moet beheer. Dit het dan goed gegaan vir so twee weke en dan maak die beeste maar net weer hulle verskeining. Naderhand het ek gaan praat met een van die groot gemeenskapsboere in die trust. Ek het voorgestel dat ek die boer sal aanstel as ‘n werker op die plaas. Dan kan hy uit sy salaris ‘n beeswagter kry en hom betaal om na die koeie te kyk en seker te maak dat hulle van my plaas afbly. Die het wel gewerk maar ook maar net vir ‘n rukkie.”
Daar is alreeds wagte aangestel op Perry’s Farm wat deur die nag patroleer en die beeste verjaag as hulle inkom. Hulle het hulle hande vol want sodra die beeste een kant uitjaag kom ‘n tweede groep op ‘n ander plek in. Daar is so net te veel verskillende groepe beeste wat vrylik rondloop in Hazyview sonder toesig.
