NELSPRUIT – ‘n Tienerseun het Sondagmiddag in ‘n dam naby Cefups Academy by die Kiaatridge-ontwikkeling verdrink.
Die polisie is omstreeks 15:00 na die toneel ontbied. Volgens omstanders op die toneel het twee seuns in die nabygeleë dam gaan swem. Slegs een van hulle kon na bewering swem. Sy maat het onder die water verdwyn en hy kon hom nie red nie.
Polisieduikers het sy liggaam kom uithaal. Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruitse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat hy nog nie die seun se besonderhede kan bekendmaak nie. Hy kon ook nie bevestig of hy wel ‘n leerder van Cefups was nie omdat hulle nog besig is met hulle ondersoek.
Polisieduikers moes hiervandaan jaag na nóg ‘n toneel by Tonga waar ook ‘n kind na bewering verdrink het. Hulle was teen druktyd gister nog besig op hierdie toneel.
