MACHADODORP – Elf mense, waaronder Emakhazeni-munisipaliteit se brandweerhoof, is in die sop omdat hulle verlede week na bewering kaas op ‘n ongelukstoneel gesteel het. Dit terwyl twee mense boonop dood is in dié ongeluk.
Mnr. Sipho Tibane (34), die brandweerhoof, is glo intussen geskors, maar dit kon nie teen druktyd bevestig word nie. Hy word wel saam met provinsiale verkeersinspekteur me. Ntombizotwa Dina Mahlangu (41); res.-konst. Desmond Shoba (32); res.-konst. Nomfundu Prudence Nkosi (44), EMS-paramedikus me. Margaret Elizabeth Jacobs (31); asook TRAC-beamptes mnre. Gerhard Koch (40), Xolisi Masuku (27), Sipho Ngwenya (30), Jabulani Madonsela (29), Henry Mashaba (28) en Donald Erwin Mash (38), van diefstal aangekla na die voorval verlede Woensdag.
Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Leonard Hlathi, het by navraag gesê dat ‘n vragmotor om 21:00 tromp-op met ‘n taxi gebots het. Die ongeluk het op die N4 sowat 8km buite Machadodorp in Belfast se rigting gebeur. Mnr. Izak Ricardo Nambuyi van Hillbrow was met die taxi in Nelspruit se rigting onderweg en mnr. Prosper Chidenu was met die vragmotor in die teenoorgestelde rigting op pad toe hulle gebots het. Beide Nambuyi en Chidenu is in die ongeluk dood.
Die taxi se sleepwa het mozzarella en Gouda-kaas vervoer asook duvetstelle. Verskeie reddingswerkers is na die toneel ontbied. Die inhoud van die sleepwa het die hele pad vol gelê. Hlathi het toevallig self by die toneel verby gery en gestop. Hy het nogal gesê dat dit vir hom soos brood gelyk het.
Volgens ‘n verklaring wat deel vorm van die polisiedossier, moes TRAC die pad opruim. Die eienaar van die kaas, mnr. Juliao Abilio Matsiuke, het ook op die toneel aangekom. Hy het vertel dat die kaas vir ‘n pizza-plek in Maputo bedoel was. Volgens hom was daar 171 bokse kaas met ses blokke elk op die wa. Hy het self die oorblywende kaas opgelaai, maar het gekla dat dit net die helfte van die vrag was en dat hy nooit toestemming gegee het dat enige iemand van die kaas mag neem nie. ‘n Informant het ook aan die polisie genoem dat verskeie van die reddingswerkers self van die kaas opgelaai het.
Ondersoekbeamptes het toe na die kaas gesoek en 127 blokke daarvan teruggekry – 125 blokke mozzarella en twee Gouda. Die waarde word geraam op sowat R50 000 geraam. Van hierdie kaas is na bewering in van die onderskeie beskuldigdes se huise gekry en 78 blokke is langs die N4 opgespoor. Dié is glo deur ‘n TRAC-beampte daar afgelaai.
Mnr. Graham Esterhuizen, hoof-uitvoerendebeampte van TRAC, het by navraag gesê dat hulle wel teen hulle beamptes sal optree as hulle skuldig is. Hulle gaan egter nie hangende die hofsaak geskors word nie.
Die saak teen die beskuldigdes is tot 15 Januarie uitgestel sodat die direkteur van openbare vervolging kan besluit of daar wel voortgegaan moet word met die saak
• Motoriste wat dalk inligting het oor waar die res van die kaas kan wees, word gevra om AO Brandon Watt by 082-318-9857 te skakel.
