NELSPRUIT – Ondernemings se kontant word al hoe meer deur rowers geteiken. Dit is volgens statistieke wat Woensdag deur mnr. Richard
Phillips, uitvoerende hoof van Cash Connect Suid-Africa, voorgehou is, tydens die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) se besigheidsontbyt.
Volgens Phillips het banke en kontant-in-transitomaatskappye hul eie sekuriteit al so opgeskerp om hul kontant te beskerm, dat besighede nou diewe se voorkeur-sagte teiken geword het.
In die 2012/13 finansiële jaar is 16 377 gewapende rooftogte teen firmas aangeteken, waarvan meer as 95 persent vir kontant was. Hy het ook genoem dat daar verlede jaar ongeveer R80 triljoen in kontant in sirkulasie in Suid-Afrika was.
Cash Connect se oplossing is die Connectr 3 000 Under Counter. Dié SABS-goedgekeurde kluis is ‘n veiliger en goedkoper opsie as normale versekering vir kontant en dienste. Volgens mnr. Lourens Smidt van die maatskappy se nuut-gevestigde Mpumalanga-tak, is die kluis ‘n kontantprosessering-masjien.
“Sodra geld uit die kasregister in die kluis geplaas word, is dit uit die winkel se hande en deur ons gewaarborg,” het hy verduidelik. Hierdie geld word in die kluis gesit deur ‘n geufie wat die kontant tel en kyk dat die note eg is. Dié bedrag word dan in die besigheid se bankrekening inbetaal en die kluis druk ‘n strokie met die detail van die transaksie wat dan in die kasregister gebêre word.
Wanneer ‘n kontant-in-transitomaatskappy die kontant uit die kluis kom verwyder, is dit op Cash Connect se rekening en risiko want die fisiese geld behoort dan aan hulle.
Die beginsels van die masjien, wat ook in weergawes beskikbaar is wat tussen 5 000 en 10 000 banknote kan stoor, is nie net dat dit die eienaar goedkoper uitwerk nie, maar dat kontant in die winkel uit sirkulasie gehaal word en die besigheid se “sielkundige” bankrekening versterk. Phillips het verduidelik dat dié idee is om ‘n veilige handelomgewing te skep sodat enige kleinhandelaar op dienslewering kan fokus sonder om oor sy werknemers of kliënte se veiligheid bekommerd te wees.
Van die Connectr se kenmerke is dat dit met kodes oopsluit, tweevoud-SIM-kaarte gebruik en geld in tot nege verskillende bankrekenings kan deponeer.
Volgens Smidt is die beste deel egter dat Cash Connect slegs R0,25 vra vir elke R100 wat hulle namens ‘n kliënt deponeer, heelwat minder as die gewone R0,35 wat banke as ‘n reël vir kontantdeposito’s vra.
