
‘n Batswana het verlede Vrydag sy lewe verloor toe die vragmotor wat hy bestuur het deur die padrelings op die Longtompas gebars het nadat die voertuig se remme vermoedelik onklaar geraak het.
Volgens mnr. Josias Molokomme van Netcare 911 is die bestuurder op slag dood terwyl die passasier, wat van Zambië afkomstig is, uit die vragmotor geval het en verskeie hoof- en heupbeserings opgedoen het. Reddingswerkers het ongeveer 18 uur gespook om die oorledene se liggaam uit die wrak te verwyder.
Die proses is vertraag weens die feit dat twee insleepvoertuie van Middelburg af ontbied moes word om die vragmotor – wat houtplanke vervoer het – op te hys. Teen Sondagmiddag was werkers steeds besig om die planke te verwyder. “’n Mens kon sien dat die bestuurder probeer het om beheer oor die voertuig te herwin maar dat hy as gevolg van die swaar vrag nie daarin kon slaag nie,” vertel mnr. Deon Broekman van die N3 Rapid Response. Die beseerde is na die Witbank Hospitaal oorgeplaas waar hy tans behandeling ontvang.


